Soorte resepte:

Ekonomies, gesond én lekker in Annelien se kombuis

Annelien Pienaar (Foto: Verskaf)

Boerekos, randrekkers, maaltydbeplanning en gesonde kos, dít is die bekende voedselkonsultant Annelien Pienaar se uitgangspunte wanneer sy kos maak.

Annelien is ʼn voedselwetenskaplike, bedryf ʼn kosblog, haar eie resepteboek genaamd Boerekos met ʼn Twist het ʼn paar jaar gelede verskyn en sy het ook al haar eie televisieprogram met dieselfde naam gehad. Sy gaan ook van nou af weekliks resepte en wenke op Maroela Media se Koolstoof-afdeling publiseer.

Annelien vertel dat sy deel is van ʼn familie kosdeskundiges, maar dat haar groot liefde vir kos begin het met haar jongste sussie.

“Ons het ʼn laatlammetjie-sussie gehad wat ʼn diabeet was. Ek het gesien hoe swaar my ma kry om vir haar kos te moet maak. Onthou, in daardie dae was die tegnologie nie so goed ten opsigte van diabetes nie. Dit het my finaal oortuig om voedselwetenskap te studeer,” vertel sy.

Annelien beskryf haar kosmaakstyl as eenvoudig en gesond. Sy is ʼn boervrou en lewe so ver moontlik van die grond af. Sy is ook ʼn ma van drie kinders.

“My koskeuses is baie eenvoudig, ek probeer altyd ekonomies en besparend wees, maar tog gesond en vars. Ek leer ander en my eie gesin om weg te bly van preserveermiddels. Ek kyk ook na hoekom kinders so aandag afleibaar is en hoe kos dit beïnvloed.”

“Ek het ʼn 9‑jarige wat nog eintlik jonk is, ʼn 16‑jarige wat vir ses mense eet, en ʼn 20‑jarige op universiteit. So ek moet vir al drie daardie stadiums kosmaak. Ek het ook baie kieskeurige eters in my huis, én allergieë. Daardie dinamika hou ʼn mens aan die gang om te poog om hulle gesond en hul konsentrasievlakke hoog te hou,” sê sy.

Vir Annelien is dit belangrik om gesond te eet, om vir jouself ʼn gesonde lewe te verseker. Sy vergelyk hoe jy na jou liggaam omsien met hoe jy ʼn duur kar sal hanteer.

“As jy swak gehalte brandstof gebruik, nie gereeld jou voertuig diens nie of die voertuig oorlaai, gaan dit op die lang duur begin oppak. Só is ʼn mens se liggaam ook.

“ʼn Mens moet gereeld kyk na ʼn ontgiftingsproses vir jou liggaam en weekliks jou en jou gesin se spyskaart beplan. Vir my is dit die kern van gesonde leefstylbeplanning.”

Annelien hou vol dat jy deur middel van beplanning baie geld kan bespaar omdat jy nie net lukraak goed in die winkels koop wat vermors gaan word nie.

Sy vertel dat haar bekende Facebook-groep genaamd Boerekos met ʼn Twist, eintlik op ʼn snaakse manier begin het.

Sy het ʼn plasing op Facebook gelees van iemand wat hul vleis met asyn probeer sag maak, en het toe losgetrek in die kommentaar.

“ʼn Mens moet eerder jou vleis in jogurt of karringmelk sag maak. Die bakterieë wat in jogurt is, breek die bindvesel af en maak dit dan sag. Daarom moet jy dit eers daarin laat lê, dit afspoel, en daarna marineer soos gewoonweg, waar jy ʼn bietjie asyn kan byvoeg,” sê sy.

Dié plasing het baie kommentaar uitgelok en is ʼn klomp keer gedeel, en dít is wat daartoe aanleiding gegee het dat Annelien wat haar eie blad begin het, waar sy nou resepte en raad deel. Haar Facebook-blad het reeds meer as 25 000 lede.

Annelien sê sy beplan om haar plasings, Annelien se kombuis, op ons Koolstoof-afdeling af te skop met idees vir kosblikke en ekonomiese resepte. Sy moedig ook Maroela Media-lesers aan om haar vrae te vra oor resepte óf die tegniese aspekte van kosmaak, en sy onderneem om elkeen persoonlik te antwoord.

Annelien sê sy wil mense bemagtig om selfonderhoudend te word, deur kos self tuis te vervaardig en om hulle met die nodige inligting toe te rus om gemaklik in die kombuis te floreer.

Besoek Annelien se blog hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.