Soorte resepte:

[Foto’s] Kos, kuns en kultuur kom hiér byeen

Anine Killian geniet ʼn wynproesessie. Foto: Phillip Bruwer

Deur Phillip Bruwer

ʼn Weggesteekte teetuinjuweel en trouplek in Pretoria verander een keer ʼn maand in ʼn makietieplek vol kos, kultuur, kuns en heerlike geselskap.

Duck & Dine in Akasia in die noorde van die stad het sowat 20 jaar gelede sy deure oopgemaak onder aanvoering van die egpaar Rici en Stephen Allison. Stephen is ʼn welbekende oogarts en oogkundedosent en Rici ʼn kranige kunstenares. Hul gasvryheid en liefde vir mense het hul kleinhoewe in ʼn hemelse trouplek omskep waar talle mense al ewige trou aan mekaar gesweer het.

Intussen het hulle uitgebrei en die Hoity Toity-teetuin op die perseel oopgemaak wat die eerste Sondag van elke maand ʼn heerlike driegang-buffet vir inwoners voorsit uit die kombuis van sjef Marius Hammond.

In Junie het die Allisons begin om kultuurtema-aande een keer ʼn maand op Vrydae aan te bied waar gaste die geleentheid kry om volgens die tema aan te trek, spesiale disse eie aan dié spesifieke kultuur te geniet, saam met tonne vermaak wat daarmee gepaardgaan. Rici stal ook haar eie kunswerk daar uit wat die tema aanvul, terwyl wynliefhebbers ʼn wynproesessie kan geniet.

Maroela Media is onlangs genooi om die tweede tema-aand by te woon, waar die Afrika-kultuur met trots verteenwoordig is. Die voorgereg was heerlike biltongsop wat in ʼn kraakvars broodrolletjie opgedien is.

Vir hoofgereg is ons met bobotie, hoenderpotjiekos en bykosse soos stampmielies bederf. Vir die soettande is die driegang afgerond met nostalgiese malvapoeding.

As deel van die ervaring is mampoer vrylik uitgedeel en kon gaste deelneem aan ʼn bokdrolletjiespoeg- kompetisie en dansvermaak, gelei deur die Allisons se dogter, Angelique Allison, en haar dansmaat, Ryan Hammond, wenner van die vyfde seisoen van Strictly Come Dancing.

Die volgende tema-aand op 1 September het ʼn Spaanse tema, aangesien Allison en Ryan die huidige kampioene van die Spaanse dansstyl is en binnekort Suid-Afrika by ʼn internasionale glanskompetisie gaan verteenwoordig.

Besprekings is noodsaaklik. E-pos [email protected] of skakel 082 895 0561.

Klik hier vir sjef Marius Hammond se watertandlekker biltongsop-resep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.