Soorte resepte:

Franschhoek-sjef wil kosgrense verskuif

John Norris-Roger (Foto: Claire Gunn)

Vir die talentvolle John Norris-Roger, die hoofsjef by La Petite Colombe, die bekroonde Franschhoek-restaurant, was kosmaak nog altyd ʼn passie en nóú is hy besig om sy kosdroom met albei hande aan te gryp in die Kaapse Wynlande.

Norris-Roger is in Pretoria gebore en het nadat hy aan die Internasionale Hotelskool studeer het, eers ʼn draai in Mpumalanga en KwaZulu-Natal gaan maak voordat hy besluit het om die Kaap sy tuiste te maak. Dit was nie lank voordat hy agtergekom het dat hy op ʼn spesifieke styl van kosmaak wil fokus nie, en het gevolglik aansoek gedoen by die Silwood-kookskool in Rondebosch. Hy het gegradueer en daarna ʼn internskap onder leiding van bekende sjefs Scot Kirton en James Gaag by Le Petite Colombe se ouboet, La Colombe, voltooi.

Norris-Roger was later ʼn private sjef by ʼn ski-oord in die Franse Alpe, maar het in 2016 as sous-sjef na La Colombe teruggekeer saam met James Gaag, die huidige uitvoerende sjef van dié restaurant.

Vir so lank as wat hy kan onthou wil Norris-Roger al ʼn sjef word en hy was nog altyd aangetrokke tot kosmaak en die bedryf. Ten spyte daarvan dat hy deur baie mense gewaarsku is oor die lang ure, die harde werk en die opoffering wat dit vat om ʼn sjef te wees, het hy sy droom nagestreef met die ondersteuning van sy familie.

Om seker te maak dat hy weet waarvoor hy homself inlaat, het Norris-Roger baie skoolvakansies in kombuise probeer deurbring sodat hy ʼn goeie idee kon kry van die bedryf en wat dit sal verg.

“Ek dink op daardie punt het ek beslis geweet wat ek wou doen. Dit is die een besluit in my lewe waarvan ek nog die meeste seker van is,” sê hy.

La petite Colombe (Foto: Claire Gunn)

In April 2017 het Norris-Roger na Oslo in Noorweë gereis om deel te neem aan ʼn maandlange internskap by Maaemo, ʼn driester Michelin-restaurant, onder leiding van sjef Esben Holmboe Bang.

“Dit was ongelooflik inspirerend omdat ek ʼn nuwe kultuur van kos, Nordiese kosse, kon leer ken, maar ook omdat ek kon sien wat dit verg om in so ʼn streng omgewing soos dié te werk,” sê Norris-Roger.

Deur onder Kirton en Gaag te werk het Norris-Rogers die geleentheid gekry om saam met die beste in die bedryf te werk. Hy glo daar is iets baie spesiaal daaraan om iets mooi te maak en om jouself deur kos uit te druk.

“Om gaste, vriende en familie te sien wat jou harde werk waardeer is baie bevredigend. Om moeite in die kos te sit wat ek voorberei en om trots te wees op wat ek bedien, dryf my,” sê hy.

Norris-Roger sê sy passie vir kos kom daarvan dat die kosbedryf voortdurend aan die verander is.

“Die bedryf is voortdurend aan die ontwikkel, veral op fynproewervlak. Daar is altyd, op enige gegewe tydstip ʼn sjef iewers in die wêreld wat iets uniek en spesiaal doen. Dit hou almal op hulle tone en druk almal om die grense te verskuif. Die wêreld van kos is só dinamies.”

“Ek hoop ek verloor nooit insig in hoe belangrik dit is om nuwe bevindings, giere, geure, kulture en tegnieke in die kosmaak-wêreld te beproef nie. My visie vir die toekoms is om nooit op te hou om te leer nie en om nuwe dinge te ontdek, sonder om ooit die belangrikheid van geur te verloor,” sê hy.

La Petite Colombe was in 2018 een van Eat Out se tien top-restaurante in Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JMC ·

Het twee weke gelede spesiaal afgevlieg om my vrou se verjaardag in Franschhoek te gaan vier wat ‘n besoek aan hierdie restaurant ingesluit het. Behalwe dat my bankrekening se knieë geswik het was dit ‘n uitsonderlike ervaring. Alles was uit die boonste rakke, van die kos tot die diens. Die disse is meer ‘n reistog as bloot net deftige kos. Die bestuurder en kelners gaan uit hulle pad om jou tuis te laat voel en jy kry ook die geleentheid om een van die sjefs te ontmoet met ‘n besoek aan die kombuis waar jy ‘n oorsig kry oor die aktiwiteite. Beslis ‘n top 10 werd.

Hannah ·

10 / 10 vir jou wat jou vrou sooooo bederf! Voorspoed en seën vir julle!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.