Soorte resepte:

Gebakte appelpoeding

6-8 porsies

Bestanddele:
125 ml (½ k) suiker
30 ml (2 e) botter
2 eiers
5 ml (1 t) vanieljegeursel
250 ml (1 k) koekmeel
5 ml (1 t) bakpoeier
2,5 ml (½ t) sout
60 ml (¼ k) melk
1 x 385 g-blik tertappels

Sous:
250 ml (1 k) room
250 ml (1 k) suiker
‘n knippie sout
gemaalde kaneel om oor te strooi

Metode:
1. Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ‘n 2,5 liter poedingbak met botter.
2. Klits die suiker, botter, eiers en vanieljegeursel deeglik saam. Sif die droë bestanddele saam en klits dit om die beurt met die melk by die eiermengsel.
3. Giet die beslag in die poedingbak en rangskik die appels eweredig bo-op. Bak dit 20-30 minute of tot goudbruin en gaar.
4. Sous: Verhit intussen die sousbestanddele oor matige hitte en roer tot die suiker opgelos het. Prut 10-15 minute of tot die sous net begin karamelliseer.
5. Prik die warm poeding oraloor met ‘n vurk en giet die warm sous dadelik oor. Strooi die kaneel oor en sit dit warm of teen kamertemperatuur voor.

Variasies:
* Hierdie poeding kan maklik in oondvaste koppies of individuele bakkies gebak word.
* Dit kan ook as ‘n tert voorgesit word.
* Vervang die appels met ‘n blik gemengde vrugte en voeg dan 125 ml (½ k) klapper by die sous.

Die resep is oorspronklik gepubliseer in Spogresepte van die Suid-Afrikaanse Vroue-Landbou-unie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.