Soorte resepte:

Grenadellakoek

1 groot koek

Koek
4 ekstragroot eiers, geskei
250 ml (1 k) strooisuiker
125 ml (½ k) olie
125 ml (½ k) warm water
220 g (2 x 110 g-blikkies) grenadellamoes
2,5 ml (½ t) grenadellageursel
560 ml (2¼ k) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
knypie sout

Versiersel
500 g (1 klein pakkie) versiersuiker, gesif
125 g (½ blok) sagte botter
ongeveer 60 ml (4 e) warm water
55 g (½ blikkie) grenadellamoes
5 ml (1 t) grenadellageursel

Bolaag
55 g (½ blikkie) grenadellamoes
5 ml (1 t) strooisuiker
2,5 ml (½ t) mielieblom
5 ml (1 t) water

Stel oond op 180 °C.

Metode

1. KOEK Klits eiergele en strooisuiker tot liggeel.
2. Meng olie, water grenadellamoes en -geursel bymekaar. Voeg by eiergele en klits goed saam.
3. Sif koekmeel, bakpoeier en sout saam. Voeg by eiergeelmengsel en roer tot goed gemeng.
4. Klits eierwitte tot styf en vou by beslag in.
5. Voer twee koekpanne met 22 cm-deursnee met bakpapier en verdeel beslag so gelyk moontlik tussen koekpanne.
6. Bak koek vir 25 tot 30 minute of tot toetspen skoon uitkom.
7. VERSIERSEL Klits versiersuiker, botter, water, grenadellamoes en -geursel tot lig en romerig.
8. Smeer helfte van versiersel op een koek, plaas tweede koek bo-op en smeer orige versiersel op.
9. BOLAAG Verhit grenadellamoes en strooisuiker in mikrogolf vir 1 minuut.
10. Maak mielieblom en water tot pasta aan en roer by warm grenadellamengsel. Mikrogolf mengsel tot verdik.
11. Laat eers bietjie afkoel en skep bo-op koek.

WENK:
Grenadellageursel is by bakwinkels soos Bakers Bin in Centurion (012 664 0024) beskikbaar.

Resep oorspronklik gepubliseer in 50 beste gebak uit Vrouekeur
Opgestel deur Marlo Carstens
Uitgewers: Lapa
Prys: R135-00*
* Prys onderhewig aan verandering

Net soos ʼn pannekoek met die beste resep nog steeds kan flop, kan Maroela nie pa (of ma!) staan vir enige van die resepte wat jy self by die huis probeer nie. Elke koppie meel, bakpoeier, melk, eier of enige ander bestanddeel is dus in jou eie hande en Maroela Media kan nie enige verantwoordelikheid aanvaar vir komplimente (of klagtes) oor jou kookvernuf nie. -Red

Deel van: Gebak

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae