As jy raadop is oor wat om vir jou gesin dié winter voor te sit, sal dié noedel-en-groentegereg jou weer inspireer om iets nuuts te beproef. Jy kan dit saam met ʼn groenslaai of vrugteskywe voorsit.
Lewer 6 porsies
Bestanddele
- 100 g volgraan-skroefnoedels
- 1,25 ml sout
- 300 g botterskorsie, in klein blokkies gesny
- 150 g vars broccoli, in klein blommetjies en stukkies gesny
- 400 g-blik rooi nierboontjies, gedreineer en afgespoel (240 g gedreineer)
- 100 g Edam- of Cheddarkaas, gerasper
- 250 ml ongegeurde laevetjogurt
- 250 ml laevetmelk
- 4 groot eiers geklits
- 2,5 ml sout
- 1,25 ml varsgemaalde swartpeper
- 1,25 ml neutmuskaat
- 1,25 ml paprika
Metode
- Kook die noedels vir 9-11 minute vinnig in 2 liter water met sout in. Dreineer noedels en versprei dit op die boom van ʼn oondbak (ongeveer 230 x 230 x 50 mm). Voorverhit die oond tot 160 ˚
- Kook die botterskorsieblokkies vir 3-5 minute tot bros en byna gaar. Dreineer en versprei dit oor die gaar noedels.
- Plaas die broccoli-stukkies in ʼn bakkie en bedek met kookwater. Laat dit 5 minute staan, dreineer en versprei dit oor die noedels en botterskorsie. Strooi die nierboontjies en kaas bo-oor.
- Klits die jogurt melk, eiers en geurmiddels saam en giet dit oor. Bedek die bak met ʼn deksel of foelie. Bak dit 35 minute. Verwyder die deksel en bak dit nog 15-20 minute totdat die vlamengsel gestol en die gereg goudkleurig is.
Uit: Diabetes deur Hilda Lategan, Lapa-uitgewers
Daar word 2 keer verwys na sout in die bestanddele, 1.25ml en 2.5ml. Is dit korrek?
Die 1.25 ml sout gooi jy by die water waarin noedels gekook word. Die ander 2.5 ml sout word by die res van die bestandele gevoeg.