Soorte resepte:

Resep: Allegrokoekies

Allegrokoekies (Lapa-uitgewers)

Die koekies is beslis die moeite werd!

Bestanddele

  • 20 ml kitskoffiekorrels
  • 20 ml kookwater
  • 250 g (280 ml) botter by kamertemperatuur
  • 105 g (120 ml) strooisuiker
  • 280 g (500 ml) koekmeelblom
  • 75 g (125 ml) mielieblom
  • 5 ml vanieljegeursel

VULSEL

  • 75 g (85 ml) botter, gesmelt
  • 110 g (125 ml) strooisuiker
  • 1 blik (397 g) gekondenseerde melk
  • 45 ml gouestroop
  • 15 ml koffielikeur

VERSIERING

  • 300 g donker sjokolade
  • 20 g wit sjokolade

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 160 °C
  2. Meng die koffiekorrels en kookwater en laat afkoel.
  3. Klop die botter en suiker saam tot lig en romerig.
  4. Sif die meel en mielieblom saam en voeg dit saam met die vanieljegeursel en die koffie by die bottermengsel. Meng goed deur tot ʼn deeg.
  5. Rol die deeg in okkerneutgrootte balletjies en plaas dit in die holtes van ʼn klein muffinpannetjie.
  6. Druk ʼn holte in elke balletjie met ʼn groterige kurkprop, sodat die deeg in die muffinpannetjies klein bakkies vorm. Bak dit vir 15-20 minute.

VULSEL

  1. Meng al die bestanddele vir die vulsel, behalwe die likeur, saam in ʼn diep glasbak wat geskik is vir die mikrogolfoond.
  2. Mikrogolf dit op hoog vir 6-7 minute. Roer elke 1-2 minute deur. Wees versigtig – die mengsel kook maklik oor en is baie warm. Ná 6-7 minute behoort die mengsel ʼn donkerder kleur te kry en dikker te word. Roer die likeur by.
  3. Skep warm mengsel met ʼn teelepel in die afgekoelde koekies en vul dit amper tot oorlopens toe. Laat afkoel.

VERSIERING

  1. Smelt die donker sjokolade vir 4-5 minute in ʼn mikrogolfoond op ontdooi. Roer elke minuut.
  2. Doop die afgekoelde koekies heeltemal in die sjokolade deur dit op ʼn vurk te plaas. Tik die vurk liggies teen die rand van die mikrogolfbak sodat die oortollige sjokolade afloop en plaas die gedoopte koekie versigtig op plastiek om te stol.
  3. Smelt die wit sjokolade vir 2 minute in die mikrogolfoond op ontdooi. Roer elke minuut. Spuit met die wit sjokolade strepies of enige patroon van jou keuse op die koekies. Laat stol.

Bron: 101 kleinkoekies, Nettie Cilliers

Uitgewer: Lapa-uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.