Soorte resepte:

Resep: Blitskoek met suurlemoenversiersel

Blitskoek met suurlemoenversiersel (Foto: Lapa-uitgewer)

Hierdie koek is gepas vir enige geleentheid.

Lewer een groot oondpankoek

Bestanddele

KOEK

  • 375 ml suiker
  • 250 ml sagte botter
  • 10 ml vanieljegeursel
  • 4 eiers
  • 750 ml koekmeelblom
  • 20 ml bakpoeier
  • 1 ml sout
  • 250 ml melk

VERSIERSEL

  • 375 ml versiersuiker, gesif
  • 45 ml suurlemoensap
  • fyngerasperde skil van 1 suurlemoen

Metode

KOEK

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n 20 x 30 cm-oondpan deeglik met botter.
  2. Klits die suiker, botter en vanieljegeursel goed saam. Klits die eiers een vir een by.
  3. Sif die meel, bakpoeier en sout saam en klits dit by die suikermengsel in. Klits die melk geleidelik by en klits dan vir nog 3 minute.
  4. Skep die beslag in die voorbereide pan en bak dit 20 minute of tot ‘n toetspen skoon uitkom.
  5. Keer dit versigtig op ’n afkoelrakkie uit en laat dit heeltemal afkoel.

VERSIERSEL

  1. Sif die versiersuiker in ’n klein bakkie en roer die suurlemoensap by tot ’n gladde mengsel vorm. Skep lepelsvol oor die koek en laat dit teen die kante afloop. Versier die koek met gerasperde suurlemoenskil.

Variasies

  1. Bak die beslag in 2 x 20 cm-koekpanne of in vormpanne vir verjaarsdagkoeke.
  2. Vervang 100 ml van die meel met kakao vir sjokoladekoek. Versier dit na smaak met sjokolade en neute. Of berei die beslag en verdeel dit in die helfte. Maak een gedeelte sjokoladebeslag en skep dit om die beurt in die panne vir ’n interessante effek.

 

Bron: Lekker & vinnig / Spogresepte van die Suid-Afrikaanse Vroue-Landbou-unie, Heleen Meyer)

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.