Dis weer tyd vir Desember-maand se beplanning en elke vakansie kort mos ʼn baksel beskuit. Hierdie resep gee jou verskoning om ʼn bietjie ekstra te bak…
Lewer ongeveer 40 stukkies
Bestanddele:
- 1 kg bruismeel
- 5 ml bakpoeier
- 2,5 ml sout
- 2 ekstragroot eiers
- 375 ml Canderel- of Huletts SugaLite-suiker
- 500 ml Soy Fresh-sojamelk
- 200 g Flora Regular Medium Fat Spread, gesmelt
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180 °C.
- Sif die meel, bakpoeier en sout saam.
- Klits die eiers tot liggeel. Klits die suiker by.
- Klits die sojamelk goed by eiermengsel.
- Voeg die sojamelkmengsel by die meelmengsel en meng goed.
- Giet die gesmelte margarien bo-oor die deeg en knie liggies in.
- Voeg nog ʼn bietjie meel by deeg indien nodig sodat dit beter hanteerbaar is.
- Rol deeg in balletjies en plaas in twee broodpannetjies van 26 x 10 cm wat met kossproei gespuit is.
- Bak vir 50 minute of tot goudbruin bo-op. Bedek die pan met foelie as die beskuit te donker word.
- Keer op ʼn afkoelrakkie uit en laat eenkant om af te koel.
- Breek of sny in stukke en plaas op bakplate wat met bakpapier uitgevoer is.
- Droog die beskuit vir 5 uur by 70 °C uit.
Wenke:
Die Sugalite-suiker kan ook met gewone suiker vervang word indien verkies. Soy Fresh se sojamelk is lekker en is ook in ‘n sjokolade- en aarbeigeur beskikbaar waarmee jy net so lekker hierdie beskuit kan bak.
Bron: Lekker en Vinnig – Beskuit
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Vinnig en maklik, Resepte uit Vrouekeur 3, Marlo Carstens.