Soorte resepte:

[Resep] Cholesterolvrye beskuit

Foto: Lekker en Vinnig

Cholesterolvrye beskuit. Foto: Lekker en Vinnig

Dis weer tyd vir Desember-maand se beplanning en elke vakansie kort mos ʼn baksel beskuit. Hierdie resep gee jou verskoning om ʼn bietjie ekstra te bak…

Lewer ongeveer 40 stukkies

Bestanddele:

  • 1 kg bruismeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 2,5 ml sout
  • 2 ekstragroot eiers
  • 375 ml Canderel- of Huletts SugaLite-suiker
  • 500 ml Soy Fresh-sojamelk
  • 200 g Flora Regular Medium Fat Spread, gesmelt

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Sif die meel, bakpoeier en sout saam.
  3. Klits die eiers tot liggeel. Klits die suiker by.
  4. Klits die sojamelk goed by eiermengsel.
  5. Voeg die sojamelkmengsel by die meelmengsel en meng goed.
  6. Giet die gesmelte margarien bo-oor die deeg en knie liggies in.
  7. Voeg nog ʼn bietjie meel by deeg indien nodig sodat dit beter hanteerbaar is.
  8. Rol deeg in balletjies en plaas in twee broodpannetjies van 26 x 10 cm wat met kossproei gespuit is.
  9. Bak vir 50 minute of tot goudbruin bo-op. Bedek die pan met foelie as die beskuit te donker word.
  10. Keer op ʼn afkoelrakkie uit en laat eenkant om af te koel.
  11. Breek of sny in stukke en plaas op bakplate wat met bakpapier uitgevoer is.
  12. Droog die beskuit vir 5 uur by 70 °C uit.

Wenke:

Die Sugalite-suiker kan ook met gewone suiker vervang word indien verkies. Soy Fresh se sojamelk is lekker en is ook in ‘n sjokolade- en aarbeigeur beskikbaar waarmee jy net so lekker hierdie beskuit kan bak.

Bron: Lekker en Vinnig – Beskuit
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Vinnig en maklik, Resepte uit Vrouekeur 3, Marlo Carstens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.