Soorte resepte:

Resep: Dadelkoek met pekanneutbroslekkers

Dadelkoek met pekanneutbroslekkers (Foto: Lapa-uitgewers)

Hou dié resep vir ʼn spesiale geleentheid.

Lewer 1 koek

Bestanddele

KOEK

  • 200 g (¾ pakkie) dadels, gekap
  • 5 ml koeksoda
  • 185 ml water
  • 4 ekstragroot eiers
  • 250 ml strooisuiker
  • 5 ml vanielejegeursel
  • 125 ml olie
  • 90 ml melk
  • 500 ml koekmeel
  • 10 ml bakpoeier
  • 2,5 ml fyn kaneel
  • knippie sout
  • 100 g (1 pakkie) pekanneute, gekap

VERSIERSEL

  • 125 g (¼ blok) sagte botter
  • 750 ml versiersuiker, gesif
  • 10 ml karamelgeursel
  • 2,5 ml koffiepoeier
  • 2,5 ml kakao
  • 30 ml kookwater

PEKANNEUTBROSLEKKER

  • 125 ml suiker
  • 50 g (½ pakkie) pekanneute, gehalveer

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.

KOEK

  1. Verhit die dadels, koeksoda en water in kastrol tot kookpunt terwyl dit af en toe geroer word. Verwyder van hitte en hou eenkant.
  2. Klits die eiers en strooisuiker tot liggeel.
  3. Klits die vanieljegeursel, olie en melk by die eiermengsel.
  4. Sif die koekmeel, bakpoeier, kaneel en sout saam. Roer die pekanneute by.
  5. Roer die dadelmengsel en meelmengsel beurtelings by die eiermengsel tot ’n beslag vorm.
  6. Skep die beslag in ’n ringkoekpan met 26 cm-deursnee wat met kossproei gespuit is.
  7. Bak vir 35-40 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.
  8. Laat bietjie in die koekpan afkoel. Keer die koek op ’n afkoelrakkie uit om heeltemal af te koel.

VERSIERSEL

  1. Room die botter tot liggeel. Voeg die versiersuiker bietjies-bietjies by en klits na elke byvoeging.
  2. Voeg die karamelgeursel by en klits tot romerig.
  3. Maak die koffiepoeier, kakao en kookwater tot ’n gladde pasta aan en voeg by die versiersel terwyl dit tot pofferig geklits word.
  4. Smeer die versiersel bo-oor koek.

PEKANNEUTBROSLEKKER

  1. Smelt die suiker oor lae hitte in ’n dikboomkastrol, maar moenie roer nie anders vorm daar suikerkristalle.
  2. Wanneer die suiker amper gesmelt is, is dit veilig om te begin roer.
  3. Voeg die pekanneute by wanneer stroop goudbruin en helder is.
  4. Roer tot die neute heeltemal met stroop bedek is en gooi die mengsel op ’n bakplaat wat met bakpapier gevoer is uit. Laat eenkant tot hard.
  5. Breek die broslekker in stukke en plaas net voor bediening bo-op die koek, anders word dit taai.

Bron: Lekker & Vinnig: Koeke. Uit: 50 Beste gebak uit Vrouekeur deur Marlo Carstens

Uitgewer: Lapa

Net soos ʼn pannekoek met die beste resep nog steeds kan flop, kan Maroela nie pa (of ma!) staan vir enige van die resepte wat jy self by die huis probeer nie. Elke koppie meel, bakpoeier, melk, eier of enige ander bestanddeel is dus in jou eie hande en Maroela Media kan nie enige verantwoordelikheid aanvaar vir komplimente (of klagtes) oor jou kookvernuf nie. -Red

Deel van: Gebak, Soetgoed

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hilda Barnard ·

Vanieljegeursel, Olie en Melk word nie gelys onder die koek se bestandele nie.
Hoeveel moet ek gebruik?

ekke ·

hilda ek kyk ook nou die resep en sit met dieselfde vraag want ek wil dit die naweek maak

Anja van der Merwe ·

Dagsê Lesers

Dankie vir julle kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Lekker bak!

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.