Soorte resepte:

Resep: Die beste souttertkoppies

Die beste souttertkoppies (Foto: Lapa-uitgewers)

“Daar is min wat jy nie by ’n souttert kan voeg nie. Maar hier is ’n brokkie raad: alle vog moet eers deeglik verwyder word uit wat ook al jy in ’n souttert wil gebruik. Groente wat vog bevat soos eiervrug, spinasie en murgpampoentjies moet met ander woorde eers gaargemaak word om ’n pap tert te vermy. Hierdie kleiner muffin-weergawe is perfek vir ’n kosblik werk toe, skool toe of op ’n lekker reis iewers heen,” skryf Armand Aucamp in sy resepteboek, Armand kook kaal.

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele

BASIESE SOUTTERTMENGSEL

  • 6 eiers
  • ½ k melk
  • ¼ k room
  • ½ k amandelmeel
  • 1 e botter
  • 1 k gerasperde kaas (ek verkies mozzarella, maar enige harde kaas sal goed werk; verouderde cheddar is ook ’n wenner!)
  • varsgemaalde sout en peper

VULSEL

  • 1 pak (200 g) spekvleis (blokkies werk die beste vanweë die hoë vetinhoud)
  • olyfolie
  • 1 groot prei, in dun skywe gesny
  • ½ rooi soetrissie, grof gekap
  • ¼ t paprika
  • varsgemaalde swartpeper
  • varsgemaalde sout (indien nodig)
  • grasuie, baie fyn gekap

Metode

BASIESE SOUTTERTMENGSEL

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  2. Klop die eiers, melk en room deeglik saam. Voeg die amandelmeel by en roer deeglik met ’n lepel deur. Moet dit nie weer klits nie, maar roer deeglik om enige klonte te verwyder.
  3. Smelt die een eetlepel botter in die mikrogolf en voeg saam met die koppie gerasperde kaas by die eiermengsel en roer weer deur. Geur met varsgemaalde sout en peper na smaak.

VULSEL

  1. Braai die spekvleis in die olyfolie oor hoë hitte tot ligbruin.
  2. Voeg dan die prei en gekapte soetrissie by en braai verder in die spekvleisvet. Geur die spekvleis met die paprika en swartpeper (die spekvleis behoort sout genoeg te wees, maar as jy ’n tikkie ekstra sout wil byvoeg, doen dit gerus).
  3. Voeg die spekvleis-en-preimengsel by jou eiermengsel. Voeg die fyngekapte grasuie by en roer.
  4. As jy ’n silikoonmuffinpan gebruik, hoef jy dit nie met botter te smeer nie. Maak seker dat jy die silikoonpan op ’n bakplaat of oondrak plaas vóór jy die mengsel inskep. As jy ’n buigbare pan met eiermengsel daarin dra, soek jy moeilikheid. As jy ’n metaalpan gebruik, maak seker dat elke gaatjie deeglik gesmeer is.
  5. Skep elke muffinholte driekwart vol met ’n soplepel om ’n gemors te vermy.
  6. Plaas in die oond vir 15 minute of totdat die mengsel heeltemal gestol het.
  7. Haal die muffinpan uit die oond en laat dit vir 10 minute rus voordat jy die souttertjies uithaal.

Bron: Armand kook kaal deur Armand Aucamp

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Marlize ·

Dit lyk heerlik, maar hoeveel eiers vir die eiermengesel asb?

Pensioenaris ·

Julle het my voor gespring, wou dieselfde vraag vra.

Amanda Hulme ·

Kyk en mis, of is die “eiermengsel” nie in die bestandele nie?

Anja van der Merwe ·

Dagsê Lesers

Dankie vir julle kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die eiermengsel bevat 6 eiers. Die resep is reeds gewysig.

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.