Soorte resepte:

[Resep] Gebakte pasta met kerrie-botterskorsiesous

Gebakte pasta met kerrie-botterskorsiesous. Foto: Lekker en Vinnig

Hierdie is een van daai “goedvoel”-resepte – perfek vir die koue weer wat op pad is.

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele:

  • 125 ml vars broodkrummels
  • 30 g (30 ml) botter of margarien, gesmelt
  • 100 g (250 ml) gerasperde Cheddarkaas
  • 1 kg botterskorsie, geskil en in blokkies gesny en geblansjeer
  • 250 ml room
  • 65 ml vars koljanderblare
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • 500 g pastaskulpe, gaargekook en gedreineer

Sous

  • 30 ml olyfolie
  • 10 ml matige kerriepoeier
  • 1 medium ui, geskil en fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, gepers
  • 820 g (2 blikke) gekapte tamaties
  • 30 ml karamelbruinsuiker
  • sout en varsgemaalde swartpeper

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180°C en smeer ‘n oondbak.
  2. Meng die broodkrummels en gesmelte botter en kaas saam en hou eenkant.
  3. Meng die botterskorsie, room, koljander, sout en peper en pasta saam.
  4. Sous: Verhit die olie in ‘n pan en braai die ui, kerrie en knoffel saam tot sag. Voeg die tamaties, suiker, sout en peper by en kook oor matige hitte vir 15-20 minute. Roer gereeld.
  5. Voeg twee derdes van die kerriesous by die botterskorsiemengsel en meng goed.
  6. Skep die mengsel in die gesmeerde oondbak en giet die oorblywende sous oor. Strooi die broodkrummelmengsel oor en bak vir 30-35 minute en sit warm voor.

Variasies:

  1. Voeg 300 g gebraaide hoenderrepies by die sous.
  2. Roerbraai 500 g maalvleis saam met die ui, kerrie en knoffel, voordat die tamaties en die res van die bestanddele vir die sous bygevoeg word.

Wenk:

  • Die gereg kan ‘n dag voor die tyd berei en net voor ete gebak word.

Bron: Lekker en Vinnig: Kerries
Uitgewer: Lapa
Oorspronklik gepubliseer in Ek sou kon doen met ‘n pampoen deur Nettie Cilliers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.