Die gebakte vla kan warm of koud geëet word. Dit kan vir 24 uur verkoel word, maar bevriesing word nie aanbeveel nie.
Lewer 4 porsies
Bestanddele:
- 250 ml laevetmelk
- 2 groot eiers
- 25 ml suiker
- 1 ml vanieljegeursel (opsioneel, kan tartrasien en/of karamel bevat)
- fyn kaneel of gerasperde neutmuskaat
Metode:
- Indien die oond gebruik word, verhit die oond tot 160 °C.
- Verhit die melk tot warm, maar nie tot by kookpunt nie.
- Klits die eiers, suiker en geursel saam tot gemeng, maar nie skuimerig nie. Voeg van die warm melk geleidelik by die eiermengsel terwyl dit voortdurend geklits word. Giet die eiermengsel deur ʼn siffie in vier klein soufflébakkies. Plaas die soufflébakkies in ʼn groter oondskottel met kookwater wat tot by dieselfde vlak as die inhoud van die soufflébakkies kom.
- Bak vir 45 minute tot gestol of mikrogolf vir 12-15 minute op medium (50% krag) tot gestol.
- Strooi ʼn bietjie kaneel of neutmuskaat oor die gebakte via en sit warm of koud voor met ʼn sous van jou keuse.
Voorstelle en variasies
- Vervang die melk deur sojamelk, dan is die gereg melk- en laktosevry maar nie sojavry nie.
- Vervang die melk deur laktosevrye melk, byvoorbeeld Parmalat Easy Gest, dan is die gereg laktosevry maar nie melkvry nie.
- Vervang die melk deur klapper- of rysmelk, dan is die gereg melk- en laktosevry.
Bron: SA kookboek vir allergieë en voedselsensitiwiteit
Uitgewer: Tafelberg