Soorte resepte:

[Resep] Grondboontjie­botter­kaas­koek

Grondboontjiebotterkaaskoek (Foto: 50 Beste gebak uit Vrouekeur)

Grondboontjiebotterkaaskoek (Foto: 50 Beste gebak uit Vrouekeur)

Jy hoef nie ʼn bobaaskok te wees om dié heerlike kaaskoek te bemeester nie en dit sal jou vriende en familie boonop baie beïndruk!

Lewer 16 porsies

Bestanddele

Kors

  • 200 g (1 pak) Romany Creams
  • 2,5 ml (½ t) fyn kaneel
  • 60 ml (4 e) botter, gesmelt

Vulsel

  • 750 g (3 x 250 g-bakkies) laevetroomkaas
  • 250 ml (1 k) strooisuiker
  • 75 ml (5 e) gladde grondboontjiebotter
  • 60 ml (4 e) koekmeel
  • 4 ekstragroot eiers
  • 125 ml (½ k) melk

Bolaag

  • 385 g (1 blik) karamelkondensmelk
  • 200 g (1 groot plak) donkersjokolade, gesmelt
  • 1 groot grondboontjiebroslekker, grofgekap

Wenk: Moenie die broslekker te lank voor die tyd op kaaskoek sprinkel nie, want dit raak taai wanneer dit met vog in aanraking kom.

Metode

Stel oond op 180 ˚C.

Kors

  • Kap koekies en kaneel in voedselverwerker fyn. Voeg botter by en meng goed.
  • Druk koekiemengsel op bodem van losboomkoekpan met 24 cm-deursnee vas.

Vulsel

  • Meng roomkaas, strooisuiker en grondboontjiebotter goed.
  • Sif koekmeel bo-oor roomkaasmengsel en meng goed.
  • Klits eiers en melk goed en meng by roomkaasmengsel.
  • Skep vulsel in tertkors en bak vir 20 minute.
  • Draai hitte laer na 150 ˚C en bak vir nog 45 minute.
  • Sit oond af, maak oonddeur effens oop en laat kaaskoek vir nog 1 uur in oond staan.

Bolaag

  • Meng kondensmelk en sjokolade.
  • Skep sjokolademengsel bo-op kaaskoek en sprinkel broslekkerstukkies bo-oor.
  • Maak kaaskoek los uit losboomkoekpan en sit in skywe voor.
  • Hou in die yskas.

Bron: 50 Beste gebak uit Vrouekeur

Uitgewer: Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

D4e ·

Kyk, ons het nog nie self die Grondboontjiebotterkaaskoek gebak nie maar dit gekoop by ‘n klein koffiewinkel hier naby ons. Die resep behoort verbrand the word, elke rekord daarvan vernietig word en dit moet ‘n kriminele oortreding gemaak word om dit enigsins voor te berei, wat nog te verkoop. Dit is ‘n “evil” wat ons getref het.

Ek self is van toeka af gek oor kaaskoek. My vrou het nie erg daaraan nie. Maar nadat ons dit die eerste keer by die koffiwinkel bestel het word ons deesdae al met die hand gegroet as ons daar kom en ons gewone bestelling word voorberei. So dikwels kom ons daar. En dit vir ‘n stukkie grondboontjiebotterkaaskoek. Gelukkig is die koffiewinkel se koffie ook baie lekker.

Gaan beslis aan vroulief neul dat sy dit ook probeer bak. Sal nou wel nie veel geld spaar nie want ‘n porsie by die koffiewinkel sal waarskynlik goedkoper wees as die hele een by die huis. En ek sal seker ‘n boep ontwikkel.

“On second thoughts” – moet dit maar miskien eerder by die koffiewinkel koop. Gesonder en goekoper op die lang duur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.