Ons sien akteur en aanbieder Hannes van Wyk gereeld op die kassie in die program Bravo! waar hy met bekendes skouers skuur. Verder is hy geen onbekende op die planke nie. Weg van die kassie en in die kombuis is Hannes nie wat jy ’n kok van formaat sal noem nie, maar volgens hom maak hy ’n “mean” slaai en heerlike toebroodjies.
Sy gunsteling-bestanddele is brood en botter en hy is mal oor boerekos. “Ek hou maar van vleis, rys en aartappels, maar is ook gek na enige kos wat my goeie vriend Gerrie Ferreira maak. Hy’s ’n uitstekende kok en kan binne ’n halfuur ’n fantastiese gourmet-ete voorberei.”
4 tot 6 porsies
Bestanddele
- 250 g (1 pakkie) spek, in blokkies gesny
- 275 g (1 blikkie) Weense worsies in soutwater, gedreineer
- 500 ml (2 k) cheddarkaas, gerasper
- 15 ml (1 e) vars pietersielie, gekap
- 45 ml (3 e) koekmeelblom
- 15 ml (1 e) mosterdpoeier
- 250 ml (1 k) volroommelk
- 3 ekstragroot eiers, geklits
- knypie sout en peper
Metode:
- Stel oond op 180 °C.
- Sprinkel gekapte spek in oondtertbord van 20 cm-deursnee, wat met kleefwerende kossproei gespuit is.
- Sny worsies in skyfies en gooi oor.
- Sprinkel kaas en pietersielie oor.
- Meng koekmeelblom en mosterdpoeier en voeg helfte van melk daarby. Roer
- tot gladde beslag vorm.
- Roer nou oorblywende melk, eiers, sout en peper by.
- Giet oor bestanddele in oondtertbord.
- Bak vir 35 minute of tot goudbruin.
- Sit warm of teen kamertemperatuur saam met slaai voor.
Bron: Vrouekeur: Sterkos – Kook saam met die sterre
Uitgewer: Lapa uitgewers
yumm!!
Dit is baie lekker