Soorte resepte:

Kosblik-idees: Lensieslaai en hawermoutkoekies

Foto: Verskaf

Die lensieslaai is ʼn heerlike bygereg, want dit is ʼn lekker afwisseling van ʼn tipiese “wit” styselgebaseerde bygereg en ideaal vir ʼn ligte middagete, soos in ʼn kosblik. Die lensies is ʼn bron van sowel proteïen as stysel, maar het heelwat meer gesonde vesel in as byvoorbeeld pasta of rys. Die slaaibestanddele wat daarby gebruik word, kan ook afgewissel word. Komkommer of boontjies en tamatie is heerlik daarby. Ertjies is ook altyd ʼn lekker kombinasie met lensies en al hierdie elemente pas perfek by die suurlemoen- en kruisementgeure in die slaaisous. Dié slaai is ʼn goeie voorbeeld van een van daardie slaaie wat ʼn geurontploffing in jou mond is, al lyk dit dalk baie eenvoudig.

Die kwartaal is amper verby – gee jou kinders hierdie vakansie baie liefde en aandag en lekker, gesonde kos. ʼn Blik met tuisgebakte koekies is ʼn smullekker bederf. As dit by koekies kom, is tuisgemaak beslis die beste. Hierdie resep gebruik grondboontjiebotter en speserye wat dit ʼn interessante geur gee en die hawermout en volkoringmeel verseker dat dit  ʼn stewige skoot vesel bevat. Die kombinasie van bestanddele gee die koekie ʼn lekker growwe tekstuur en dis ʼn maklike manier om met relatief gesonde bestanddele ʼn koekie te bak wat beslis gesonder is as ʼn winkelweergawe. Onthou net om nie met die hele blik langs jou te gaan sit nie. Hou iets vir ʼn volgende keer se koppie tee of koffie.

Lensieslaai met kruisement, feta en broccoli

  • Lewer 4 – 6 porsies

Bestanddele:

Slaai

  • 250 ml (200 g) rou bruin lensies
  • 100 g broccoli, in blommetjies gesny
  • 6-8 Peppadews® (pikantrissies), in stukkies gesny
  • 100 ml vars kruisementblare
  • 1 skyf fetakaas, in blokkies gesny

Slaaisous

  • 50 ml avokado- of olyfolie
  • 25 ml (5 t) appel- of witwynasyn
  • 10 ml (2 t) suurlemoenskil, fyn gerasper
  • 50 ml suurlemoensap
  • 5 ml (1 t) heuning
  • 30 ml (2 e) fyngekapte vars kruisement
  • sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Metode:

  1. Slaai: Plaas lensies met 625 ml koue water in ’n kastrol, verhit oor matige hitte en prut vir 25-30 minute of tot net gaar, maar nie pap nie. Moenie sout by die rou lensies voeg nie.
  2. Slaaisous: Meng intussen al die slaaisousbestanddele en geur na smaak.
  3. Bedek intussen die broccoli met kookwater en laat vir 15 minute staan of tot net gaar. Dreineer.
  4. Dreineer lensies en plaas met die broccoli terug in die kastrol. Skink die helfte van die slaaisous oor en laat heeltemal afkoel.
  5. Meng die lensiemengsel met die orige slaaisous en ander slaaibestanddele en sit voor.

Hawermoutkoekies

  • Resep uit Cooking from the heart 1

Bestanddele:

  • ¼ k (60 ml) grondboontjiebotter
  • ¼ k (60 ml) sagte botter
  • ½ k (125 ml) suiker
  • 3 groot Nulaid-eiers, geklits
  • 3 e (45 ml) melk
  • 2 k (500 ml) rou hawermout
  • 1 k (250 ml) volkoringmeel
  • ½ t (2,5 ml) koeksoda
  • ½ k (125 ml) rooibosbessies (cranberries) of rosyne
  • ½ e (7,5 ml) gemaalde gemengde speserye

Metode:

  1. Voorverhit oond tot 180 °C. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit.
  2. Klop grondboontjiebotter en botter tot goed gemeng. Voeg suiker en eiers by en klits goed. Roer melk by.
  3. Voeg hawermout, meel, koeksoda, rooibosbessies en gemengde speserye by en roer tot ʼn sagte deeg vorm.
  4. Laat die mengsel ʼn paar minute staan. Rol in klein balletjies en plaas op die bakplaat. Druk plat met ʼn vurk of lepel. Of skep net lepelsvol op die bakplaat.
  5. Bak vir 10-15 minute of tot goudbruin. Laat afkoel en bêre in ’n lugdigte houer. Sit voor as ʼn peuselhappie.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.