Soorte resepte:

Kosblik-idees: Tamatiesmoor en plaatkoekies

Foto: Maak vyf/Neville Lockhart

Foto: Maak vyf

Gesonde keuses bly belangrik vir ʼn gesonde manier van eet. Dit beteken dat ons nie net seker kosse moet vermy nie, maar juis moeite moet doen om voedsame bestanddele deel te maak van ons etes. Bestanddele soos hawermout, lensies, bone, gesonde olies en ʼn verskeidenheid vrugte en groente is voorbeelde hiervan. Maar hoe gemaak as jou kinders dit nie wil eet nie? Dan maak ʼn mens ʼn ander plan en sit dieselfde bestanddele net anders voor. Is hawermout dalk vir jou kinders een van daardie bestanddele?

Gelukkig hoef dit nie net in ʼn gekookte vorm as pap geniet te word nie. Ek gebruik dit byvoorbeeld in beskuit, frikkadelle of tuisgemaakte muesli en my kinders smul ewe lekker daaraan as gekookte hawermout. Vir vandag se resep gebruik ek dit in plaatkoekies, wat dit ʼn interessante tekstuur gee, sonder dat iemand noodwendig gaan weet daar is hawermout in.

Die plaatkoekiebeslag het geen suiker in nie, want die jogurt en vanieljegeursel gee dit ʼn soet smaak. Die bietjie gesmelte botter dra verder by tot die tekstuur, maar dit beteken ook dat heelwat minder olie vir die braaiproses nodig is, want niemand hou van ʼn olierige plaatkoekie nie.

Geurige tamatiesmoor

  • Resep uit Cooking from the Heart 1
  • Lewer 6 porsies

Bestanddele:

  • 2 t (10 ml) olyf- of avokado-olie
  • 1 ui, gekap
  • 1 cm stuk vars gemmer, gekap
  • 1 rooi of oranje soetrissie, ontpit en gekap
  • 1 t (5 ml) kerriepoeier of na smaak
  • 1 x 410 g gekapte tamaties
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak

Metode:

  1. Verhit olie in ’n diep pan of kastrol en soteer die ui en gemmer.
  2. Voeg soetrissie by en soteer tot sag. Roer kerriepoeier by en dan die tamaties.
  3. Prut oor lae hitte vir 15-20 minute of tot verdik. Geur met suurlemoensap en peper.
  4. Die sous kan op verskillende maniere gebruik word. Dis ʼn lekker doopsous, sous saam met braaivleis en pap en heerlik om hoenderstukke in gaar te maak.

Wenke:

  1. Die sous kan vooruit gemaak word en in ’n glasfles in die yskas bewaar word.
  2. Indien jou kinders nie van soetrissie hou nie, verpulp die hele smoor voor jy dit gebruik of stoor, want die soetrissie gee ʼn heerlike geur daaraan.

Hawermout-plaatkoekies met jogurt

  • Resep uit Maak vyf
  • Lewer 25-30 klein plaatkoekies

Bestanddele:

kosblik-6-maart-2017

Foto: Verskaf

  • 2 eiers, geklits
  • 1 k (250 ml) Griekse of ongegeurde jogurt
  • 350 ml melk
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel
  • 250 ml (1 k) steengemaalde koekmeel
  • 5 ml (1 t) bakpoeier
  • 375 ml (1½ k) hawermout
  • 30 ml (2 e) botter, gesmelt
  • olie om te braai

Metode:

  1. Klits die eiers, jogurt, melk en vanielje saam in ’n mengbak. Roer die meel, bakpoeier en hawermout by tot goed gemeng.
  2. Roer die botter by. Laat 5 minute staan voor die eerste plaatkoekies gebraai word. Dit gee die hawermout net bietjie kans om uit te swel.
  3. Verhit ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n braaipan. Skep lepelsvol (30 ml) van die beslag in die pan en braai tot lugborrels bo-op vorm. Draai versigtig om. Braai tot goudbruin en gaar.
  4. Skep uit, dreineer op kombuispapier en hou warm. Herhaal met die res van die mengsel. Sit voor met kaas. Die tamatiesmoor en kaas is heerlik op die plaatkoekies.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.