Daar is min goed so lekker soos ʼn vars, stroperige lemoenkoek.
Lewer 1 koek
Bestanddele
KOEK
- 440 ml koekmeel
- 60 ml mielieblom
- 10 ml bakpoeier
- 1 ml sout
- 250 ml botter
- 250 ml suiker
- 3 eiers, geskei
- 5 ml fyngerasperde lemoenskil
- 5 ml vanieljegeursel
- 125 ml melk
STROOP
- 125 ml suiker
- 60 ml vars lemoensap
- 30 ml vars suurlemoensap
- 5 ml fyngerasperde lemoenskil
Metode
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n 22 cm-tuitpan of koekpan deeglik met botter.
KOEK
- Sif al die droë bestanddele saam. Verroom die botter en suiker tot lig en romerig. Klits die eiergele, skil en vanieljegeursel deeglik by.
- Voeg die meelmengsel geleidelik en om die beurt met die melk by die eiermengsel en klits elke keer deeglik.
- Klits die eierwitte tot stywe punte vorm en vou die helfte met ’n groot metaallepel by die beslag in. Vou die res versigtig in.
- Skep die beslag in die voorbereide pan en bak dit ongeveer 45-60 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.
STROOP
- Verhit intussen al die bestanddele oor lae hitte en roer tot die suiker opgelos het. Verhit dit tot kookpunt en prut vir 3-5 minute tot effens stroperig. Hou dit warm.
- Keer die koek versigtig uit op ’n afkoelrakkie en plaas ’n skinkbord onder. Skep die warm stroop stadig oor die warm koek sodat dit kan intrek.
VARIASIES
- Vervang die melk met karringmelk of die helfte van die melk met lemoensap. Die beslag mag dan skif, maar hou net aan klits. Die vanieljegeursel kan met lemoenbloeiselwater vervang word.
- Roer 125 ml gekapte pekanneute by die beslag.
Bron: Lekker en vinnig: Koeke / Spogresepte van die Suid-Afrikaanse Vroue Landbou Unie deur Heleen Meyer
Uitgewer: Lapa
Die koek is nog lekkerder as daar so 125ml rooibostee en 15ml brandewyn by stroop gevoeg word
Ek gaan dit beslis maak. Met rooibostee en brandewyn in stroop