Soorte resepte:

[Resep] Malvapoeding

Foto: Lekker en Vinnig - Tradisionele Kos

Malvapoeding. Foto: Lekker en Vinnig – Tradisionele Kos

Lewer 6 porsies

Bestanddele:

Beslag

  • 15 ml botter
  • 100 g suiker
  • 1 eier
  • 30 ml appelkooskonfyt
  • 140 g koekmeel
  • 2 ml sout
  • 5 ml bakpoeier
  • 125 ml volroommelk
  • 15 ml asyn
  • 5 ml koeksoda

Sous

  • 115 g botter
  • 100 g suiker
  • 60 ml water
  • 180 ml vars room
  • 15 ml vanieljegeursel

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C
  2. Beslag: Room die botter en suiker saam tot lig.
  3. Voeg die eier en konfyt by en meng goed. Sif die meel, sout en bakpoeier oor die mengsel.
  4. Roer die melk, asyn en koeksoda saam en roer by die meel-en-bottermengsel om ʼn beslag te vorm.
  5. Giet in ʼn oondvaste bak en bak 45-50 minute.
  6. Sous: Smelt die botter, suiker en water oor matige hitte in ʼn kastrol. Roer aanhoudend totdat die suiker opgelos het.
  7. Verwyder van die hitte en roer die room en vanieljegeursel by.
  8. Giet die warm sous oor die warm nagereg sodra dit uit die oond kom.

Bron: Lekker en Vinnig – Tradisionele kos
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Trooskos, Clover SA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elize C ·

Kan van ons kook-kenners asb bevestiging van die volgende gee: Ek het ‘n tyd gelede gehoor tradisioneel word ‘n Malva-poeding gemaak met bietjie brandewyn in die sous, en as dieselfde resep gebruik word sonder die brandewyn, word dit eintlik ‘n Jan Ellis-poeding genoem. Steek daar enige waarheid in? My skoonsus was baie ongelukkig met my toe ek dit noem tydens ‘n familie-byeenkoms waar sy weer haar ‘beroemde’ Malva-poeding (sonder die brandewyn) voorgesit het….. :-) Ek het al resepte gesien met of sonder brandewyn as bestandeel in die sous, almal onder die naam Malva-poeding. Is dit dalk net opsioneel?

Madeleine v N ·

Hallo Elize. Jy blyk heeltemal in die kol te wees. Ek het vir jou die antwoord by “Huiskok” gaan haal. Heelonder is die resep soos hulle dit in die Kokkedoor se boek geplaas het. Lekker bak (met of sonder brandewyn) :-) Gaan gerus na die webtuiste vir die stukkie geskiedenis en volledige artikel. Ek het dit vreeslik geniet.
https://huiskok.com/2013/08/16/die-misterie-van-malvapoeding/
(skrywer) se nota: Die brandewyn kan met soetwyn of sjerrie vervang word. Dit kan ook uitgelos word, maar na my mening is dit malvapoeding se nefie Jan Ellis wat dan aan tafel kom kuier.)
Jy het nodig:
Malvapoeding
o 2 eiers
o 180 ml (¾ k) suiker
o 375 ml (1½ k) koekmeel, gesif
o 7,5 ml (1½ t) bakpoeier
o 7,5 ml (1½ t) koeksoda
o knippie sout
o 40 ml fyn appelkooskonfyt
o 45 ml (3 e) asyn
o 180 ml (¾ k) melk
Rendil se rooibostee-en-brandewynsous
o 375 ml (1½ k) melk
o 180 ml (¾ k) suiker
o 170 g botter
o 90 ml hanepoot-brandewyn
o 90 ml sterk rooibostee
o 15 ml (1 e) vanieljegeursel
Só maak ’n mens:
1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n oondvaste bak.
2. Klits die eiers en die suiker saam tot lig en skuimerig. Voeg die meel, bakpoeier, koeksoda, sout, appelkooskonfyt en asyn by en meng goed.
3. Voeg die melk by en klits tot die mengsel glad is.
4. Giet die mengsel in die voorbereide bak.
Bak 35 tot 40 minute lank tot gaar.
Rooibostee-en-brandewynsous
1. Verhit al die sousbestanddele saam en kook vyf minute lank.
2. Giet die warm sous oor die warm poeding.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.