Soorte resepte:

[Resep] Malvapoeding

Foto: Clover Gunsteling Poedings

Dié ou staatmaker lyk sommer pragtig in kleiner porsies. Wie kan nee sê vir dié lekkerny?

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele:

Poeding

  • 1½ k (375 ml) Clover-laevetmelk
  • ¼ k (60 g) Clover Springbokbotter
  • 2 e (30 ml) gladde appelkooskonfyt
  • 2 e (30 ml) koue water
  • 3 e (45 ml) Horlickspoeier
  • 1 t (5 ml) kakaopoeier
  • 4 t (20 ml) witasyn
  • 2 eiers
  • ¾ k (150 g) suiker
  • 1½ k (210 g) koekmeel
  • 1 t (5 ml) koeksoda
  • 2 t (10 ml) bakpoeier
  • ½ t (2 ml) sout

Sous

  • 1 e (15 ml) Horlickspoeier, gemeng met
  • 2 e (30 ml) Clover-laevetmelk
  • ¾ k (180 ml) Clover-room
  • ½ k (100 g) suiker
  • ¼ k (60 g) Clover Springbokbotter
  • 1 t (5 ml) vanieljegeursel

Metode:

Poeding

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ʼn groot 1,5 liter-bakskottel of 10 tot 12 dik kolwyntjiekoppies in ʼn 12-holte-muffinpan.
  2. Meng die melk, botter en konfyt in ʼn kastrol en roer oor lae hitte tot die botter en konfyt gesmelt het. Meng die water, Horlickspoeier en kakaopoeier saam in ʼn koppie tot glad. Gooi die Horlicksmengsel oor die warm melkmengsel en roer die asyn deur. Hou eenkant.
  3. Klits die eiers en suiker met ʼn elektriese klitser tot lig en donsig. Sif die oorblywende droë bestanddele saam. Roer die droë mengsel en die melkmengsel om die beurt liggies by die eiermengsel.
  4. Giet die beslag in die voorbereide bakskottel of kolwyntjiekoppies en bak vir 45 tot 55 minute (groot bakskottel) of 20 tot 25 minute (individuele poedings). Die poeding is gaar wanneer ʼn toetspen skoon uit die poeding kom.

Sous

  1. Meng al die bestanddele, behalwe die vanieljegeursel, in ʼn swaarboomkastrolletjie en prut oor lae hitte vir 3 tot 4 minute of tot die suiker gesmelt het. Verwyder van die hitte en roer die vanieljegeursel by.
  2. Verwyder die poeding uit die oond en prik die bokant met ʼn vurk. Giet die warm sous oor die poeding en sit met room, vIa of roomys voor.

Bron: Gunsteling Poedings
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Bokkie ·

Kan iemand asseblief vir my sê waar ek van daardie pragtige kolwyntjiekoppies of iets soortgelyks kan koop?

Christo ·

Nee wat haal daai horlics poeier uit, julle is nou besig om aan n Nasionale nagereg te peter. Daars niks fout met die oorspronlik resep nie.

SNEL ·

Ek stem Christo, was my gedagte ook, of verander nie naam, dis mos nie meer n tradisionele malvapoeding nie, watse geHorlicks is dit. Drink dit na die poeding, nie in die poeding nie.

Heila Janse van Rensburg ·

Ek wil ook asb weet waar kry n mens daardie mooi cupcake bakkies. Dankie

Amber ·

Ek weet nie waar julle woon nie, maar daai cupcake houertjies kan gekoop word by Value Baking in die Paarl en Brackenfell. Dalk het hulle n online-store.
Ja, asb, haal net daai aaklige Horlicks uit die resep. Waar kom julle daaraan?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.