Soorte resepte:

[Resep] Mieliebrood

Mieliebrood. Foto: Verskaf

Mieliebrood is een van daardie baie gewilde resepte waarvoor elkeen dalk hul eie weergawe het, maar dit bly iets waarvoor die meeste mense baie lief is. Party mense geniet dit saam met braaivleis en ander verkies dit met ontbyt of ʼn ander ete. Hoe jy ook al daarvan hou, dit is ʼn heerlike resep dié. Onthou om sommer van die staanspoor twee brode te bak, want sodra dit uit die oond kom, verdwyn die snye nogal vinnig. Het jy al die volgende dag met tuisgebakte mieliebrood roosterbrood gemaak? Dit is voorwaar smullekker.

Gebruik ʼn growwe mieliemeel vir die lekkerste tekstuur en in hierdie resep maak die volkoringmeel dit sommer nog meer veselryk. Karringmelk is ʼn wonderlike bestanddeel om mee te bak en dit gee hierdie brood ʼn sagte tekstuur, sonder dat te veel olie in die resep nodig is.

  • Resep uit Cooking from the heart 1
  • Lewer 1 brood

Bestanddele:

  • 1 k (250 ml) growwe mieliemeel
  • 1⅓ k (330 ml) volkoringmeel
  • 2 t (10 ml) bakpoeier
  • ½ t (2,5 ml) cayenne-peper of paprika of na smaak
  • ½ t (2,5 ml) sout
  • 1¼ k (310 ml) karringmelk of maas
  • 3 groot Nulaid-eiers, geklits
  • ¼ k (60 ml) olyf- of avokado-olie
  • 1 x 410 g-blik geroomde suikermielies

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer die bodem van ’n 1,5 liter-broodpan met bakpapier uit en smeer die pan liggies met olie.
  2. Plaas al die droë bestanddele in ʼn mengbak.
  3. Meng karringmelk, eiers, olie en suikermielies saam. Roer by die droë bestanddele tot goed gemeng.
  4. Skep die beslag in die broodpan en bak 45-60 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.
  5. Laat vir ʼn paar minute in die pan afkoel en keer dan uit op ’n afkoelrakkie. Sit warm met botter voor of pak dit in as deel van ʼn kosblik.

Wenk:

Rasper 2-3 murgpampoentjies en roer by die droë bestanddele. Roer ¼ k (60 ml) gerasperde cheddarkaas by die beslag of strooi die helfte daarvan bo-op, voor die brood gebak word.

Kyk elke Maandagoggend na #Kosblik op Die Groot Ontbyt of besoek Heleen Meyer se webwerf of Facebook-blad vir nog maklike en gesonde kosblik-idees.

Koop Heleen Meyer se resepteboek Maak Vyf  in Die Koöperasie, Maroela Media se aanlynwinkel. Dit bevat eenvoudige en maklike resepte van bekende bestanddele wat elk op vyf verskillende maniere gebruik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Heila ·

Moet dit olyfolie of avo olie wees. Kan n mens gewone oldie gebruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.