Soorte resepte:

Resep: Mosbolletjies

Foto: Wenresepte 2

Foto: Wenresepte 2

Hoewel ’n mens hierdie beskuit nie in ’n japtrap bak nie, is die eindresultaat so smaaklik dat dit die ekstra moeite loon. Dié spogresep kom van mev. S. van den Heever van Sishen.

Lewer sowat 192 stukke beskuit

Bestanddele:

Mos

  • 250 g (400 ml) rosyne met pitte, grofgekap
  • 15 ml suiker
  • 750 ml kookwater, afgekoel tot lou

Beskuit

  • 2,5 kg (19 x 250 ml ongesifte) koekmeelblom
  • 300 g (375 ml) suiker
  • 25 ml sout
  • 15 ml anyssaad
  • 5 ml neutmuskaat
  • 250 g botter of margarien
  • 250 ml warm melk
  • sowat 600 ml sterk lou water
  • suikerwater om mee te smeer

Metode:

Mos

  1. Plaas die rosyne, suiker en lou water in ’n groot vrugtefles. Plaas die fIes vir 3-4 dae in ʼn warm plek, of tot die rosyne bo-op dryf en die mos gis.

Beskuit

  1. Voorverhit die oond tot 200  ̊C (400  ̊F).
  2. Smeer twee of meer broodpanne.
  3. Meng die koekmeelblom, suiker, sout, anys en neutmuskaat in ’n groot knieskottel of bak. Maak ’n holte in die middel van die mengsel. Giet die mos deur ’n sif in die holte. (Gooi die rosyne weg.)
  4. Roer net genoeg van die meelmengsel by om ʼn slap beslag in die holte te vorm. Strooi van die meelmengsel liggies bo-oor.
  5. Maak dit warm toe en plaas in ’n warm plek om te rys.
  6. Smelt die botter of margarien in die melk. Voeg dit by die meelmengsel en knie dit in saam met genoeg lou water om ’n taamlike slap deeg te vorm. Bedek die deeg en laat dit in ’n warm plek rys tot dubbel die volume.
  7. Knie die deeg af. Knyp klein balletjies deeg tussen jou duim en voorvinger af. Pak hulle dig teenaan mekaar in die broodpanne. Verf ’n bietjie gesmelte botter of margarien bo-oor en laat die balletjies rys tot dubbel die volume.
  8. Bak die beskuit 45-55 minute op die middelste oondrak. Plaas ’n stuk nat bruinpapier oor die panne as die beskuit bo-op te vinnig verbruin.
  9. Bestryk die beskuit met sterk suikerwater nadat die baktyd verstreke is en bak nog 5 minute lank.
  10. Keer die beskuit op ’n draadrak uit.
  11. Eet die beskuit vars, of breek dit oop, droog dit in ’n koel oond uit en bêre dit in ’n lugdigte koekblik of houer.

Bron: Huisgenoot Wenresepte 2
Uitgewer: Human & Rousseau

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Retha ·

Verlang ek nou na my ouma………

Ek gaan sowaar hierdie resep aanpak!

Lee ·

Sowat 600 ml sterk lou water? En hoe lyk “sterk lou water” ????

humor ·

Ag Lee ons boerenasie praat maar so . Dit is water wat nie maar net lou is nie, maar tog so warm dat jy nog jou hand daarin kan hou sonder dat jy brand.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.