Soorte resepte:

Resep: Paddakolwyntjies

Paddakolwyntjies Foto uit die boek "Partytjies is Pret 5"

Paddakolwyntjies Foto uit die boek “Partytjies is Pret 5”

Kinderpartytjie: Daar onder in die vlei

Benodigdhede:
12 kolwyntjies (resep volg onderaan)
625 ml liggroen botterversiersel (resep volg onderaan)
12 groen koepelvormige jellielekkers
24 klein ronde wit lekkertjies
24 klein groen lekkertjies of koekversierballetjies
125 ml pienk botterversiersel
12 pienk muskusstokkies

Ander
12 groen kolwyntjiehouers (by bakwinkels te kry)
12 groen kolwyntjiepapiertjies

(Die stappe met foto’s by volg in ‘n foto heel onderaan)
Stap 1: Sit die kolwyntjies in groen kolwyntjiehouers en versier dit met liggroen botterversiersel.
Stap 2: Sny die koepelvormige jellielekkers middeldeur en plak twee helftes met die taai kant na voor op elke kolwyntjie vas, vir die padda se ooglede. Plak ‘n klein ronde wit lekkertjie teen die taai kant van elke jellielekker vas, vir die oë.
Stap 3: Plak twee klein groen lekkertjies of koekversierballetjies in die middel van elke kolwyntjie vas, vir neusgate. Skep die pienk versiersel in ‘n plastieksakkie en sny ‘n klein puntjie daarvan af. Spuit vir elke padda ‘n breë versierselglimlag en druk ‘n muskusstokkie onder die mond in, vir die tong.
Stap 4: Stryk die kolwyntjie papiertjies plat en knip ‘n driehoek uit elkeen, sodat dit soos ‘n lelieblaar lyk. Sit die paddas op die lelieblare neer.

Kolwyntjies:
Lewer 12 kolwyntjies

125 g sagte botter
180 ml strooisuiker
5 ml vanieljegeursel
1 ekstra-groot eier, geklits
550 ml bruismeel
200 ml melk

Voorverhit die oond tot 200° Celsius. Voer ‘n muffinpan met papiertjies. Verroom die botter en strooisuiker goed. Voeg die vanieljegeursel en eier by en klits dit deur. Vou die bruismeel en melk daarby in. Maak die papiertjies driekwart vol met die beslag en bak dit vir 12 – 15 minute in die verhitte oond tot gaar. Haal dit dadelik uit die pan en laat dit op ‘n draadrak afkoel (anders trek die papiertjies los van die koekies).

Botterversiersel
Lewer ongeveer 500 ml versiersel

125 g sagte botter of margarien
500 ml versiersuiker, gesif
10 ml vanieljegeursel
kookwater of louwarm melk

Verroom die botter of margarien en versiersuiker. Klits die vanieljegeursel en ‘n bietjie kookwater of melk daarby in om ‘n smeerbare versiersel te verkry. Hou aan met klits tot die versiersel lig en romerig is. Gebruik dit net so of meng koskleursel daarby in.

Dié partytjie-idee en resepte is gepubliseer in die boek, Partytjies is pret 5
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R185-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Stappe uit die boek "Partytjies is pret 5"

Stappe uit die boek “Partytjies is pret 5”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.