Soorte resepte:

[Resep] Pannekoeke met volkoringmeel

Pannekoeke met koringmeel (Foto: Verskaf)

Pannekoeke is so deel van ons Suid-Afrikaanse kultuur soos ʼn basaar, kermis of fondsinsameling – en tog eet elkeen ʼn pannekoek op ʼn ander manier. Meeste mense ken dit net met kaneelsuiker en hou nie eens van ʼn skeut suurlemoensap daarmee saam nie, of het dit nog nooit so geëet nie. Ander geniet ʼn pannekoek met feitlik enige vulsel, van maalvleis, tot piesang en kaas of roomys en sjokoladesous.

Vir hierdie pannekoekresep gebruik ek steengemaalde volgraanmeel. Dit gee die pannekoek ʼn heerlike neuterige smaak en interessante tekstuur. Die resep het ook heelwat eiers in, wat herinner aan ʼn Franse crêpe-styl pannekoek met ʼn ryker smaak. Die beslag bak baie maklik as gevolg van die ekstra eiers. Jy kan papierdun pannekoekies bak en daar is nie bakpoeier nodig nie want dit kan soms nogal ʼn nasmaak in jou mond (of agter jou tande) laat. Daar is twee heerlike idees vir pannekoekvulsels as deel van die resep.

Resep aangepas uit Kos is op die tafel!

Lewer 12 – 15 pannekoeke

Pannekoeke met volkoringmeel

Bestanddele:

  • 250 ml (1 k) steengemaalde volkoringmeel
  • 2 ml sout
  • 3 ekstragroot Nulaid-eiers, geklits
  • 50 ml olie
  • 325 ml melk
  • 75 ml (5 e) koue water
  • olie om pan te smeer

Metode:

  1. Meng meel en sout in ’n glasbak saam. Klits eiers en olie saam en meng met die droë bestanddele tot ’n gladde pasta vorm.
  2. Klits melk en water saam en roer geleidelik by die meelmengsel terwyl dit voortdurend geklits word. Klits deeglik na elke byvoeging. Moenie al die vloeistof op een slag byvoeg nie – dit sal te maklik klonte vorm.
  3. Verhit ’n pan van 20 cm (’n AMC 20 cm Skillet of 24 cm Chef’s Pan werk goed) oor matige hitte en smeer die bodem met ’n klein bietjie olie. Giet sowat 60 ml beslag in die pan en versprei dit eweredig oor die bodem.
  4. Bak die pannekoek tot dit bo-op stol, van die rand begin wegtrek en die onderkant goudbruin is. Draai om en bak vir nog ’n minuut aan die ander kant. ’n Pannekoek wat te lank gebak het, word rubberig en taai. Herhaal met die res van die beslag en ’n bietjie ekstra olie, indien nodig.
  5. Sit pannekoeke voor met ʼn soutvulsel, byvoorbeeld tuna en maaskaas (sien wenk*), of met ’n soetvulsel van jou keuse (sien die resep met appels, dadels en neute). Pannekoeke is ook natuurlik heerlik met kaneelsuiker en suurlemoenwiggies.

Wenke:

  1. *Tuna-en-maaskaasvulsel: Meng 125 ml (½ k) ongegeurde gladde maaskaas, 10 ml (2 t) aangemaakte mosterd of peperwortelsous, 15 ml (1 e) gekapte vars Italiaanse pietersielie of grasuie en 1 x 170 g-blik tuna in water, gedreineer. Geur met suurlemoensap, sout en peper. Plaas vars bestanddele, soos roket-, of bronkorsblare, grofgerasperde wortel en komkommerlinte (met ’n aartappelskiller gesny) op elke pannekoek. Skep tunamengsel bo-op en rol die pannekoek op of vou dit toe. Pak in ’n kosblik of sit teen kamertemperatuur voor.
  2. Om pannekoeke warm te hou: Plaas pannekoeke op ’n groot bord en bedek met ’n deksel of stuk foelie. Hou dit warm oor ’n kastrol met liggies pruttende water terwyl die res gebak word.

Appels met dadels en neute

Resep aangepas uit Cooking from the Heart 3

Lewer ongeveer 6 porsies

Bestanddele:

  • 30 ml (2 e) fyn klapper
  • 30 ml (2 e) rou hawermout
  • 60 ml (¼ k) gekapte rou amandels
  • 30 ml (2 e) gekapte dadels
  • 5 ml (1 t) gemaalde kaneel
  • knippie gemaalde kruienaeltjies
  • 4-6 (400-600 g) Pink Lady®-appels met die skil, in dun wiggies gesny
  • 15 ml (1 e) sagte botter
  • 125 ml (½ k) sterk rooibostee
  • 175 ml ongegeurde of Griekse jogurt

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 ˚C. Meng die klapper, hawermout, neute, dadels en speserye saam tot goed gemeng.
  2. Plaas appels in ’n oondbak, strooi klappermengsel bo-oor. Plaas klontjies botter bo-op en giet die tee oor.
  3. Bak vir 15-20 minute of tot die appels net gaar is – meng een keer deur, indien nodig.
  4. Skep die appelmengsel met die jogurt op pannekoeke, rol op en geniet as ’n soet bederf.

Lees gerus die wenke wat ek in my blog op www.heleenmeyer.co.za gee om pannekoeke so suksesvol as moontlik te bak. En kyk elke Maandagoggend saam na #Kosblik, op Die Groot Ontbyt, op kykNet se kanaal 144 vir nog heerlike resepte. Volg my op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood vir nog wenke en resepte om gesond en lekker te eet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.