Soorte resepte:

Resep: Pastei met geroosterde groente en feta

Geroosterde groente-en-feta-pastei (Foto: Lapa-uitgewers)

ʼn Pastei is altyd ʼn treffer, maar is gewoonlik met vleis gevul. Maak hierdie vegetariese pastei vir ʼn ligter maaltyd wat steeds smullekker is.

Genoeg vir 4

Bestanddele:

  • olyfolie
  • ʼn bietjie botter
  • 500 g gemengde vars groente
  • 100 ml tamatiesous of -puree
  • ʼn bietjie suiker
  • gemengde kruie
  • sout en swartpeper na smaak
  • 1 x 400 g skilferkorsdeeg (“puff pastry”), ontdooi
  • 100 g fetakaas
  • 1 eier, geklits

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 190 °C en smeer ʼn oondvaste tertbak.
  2. Verhit die olie en bietjie botter in ʼn riffelpan. Rooster die groente in sarsies vir ongeveer 5 minute en skep dit uit die. Voeg nog olie of botter in die pan indien nodig.
  3. Voeg die tamatiesous of -puree by die geroosterde groente en geur dit met ʼn bietjie suiker, gemengde kruie, sout en peper.
  4. Voer die voorbereide oondvaste bak met die helfte van die deeg uit. Skep die groente in die kors en krummel groot stukke van die feta oor.
  5. Maak die rande van die kors nat, bedek die vulsel met die res van die deeg en druk die rande vas. Smeer die eier oor die deeg en bak die pastei vir 25-30 minute.

WENKE: Vervang die skilferkorsdeeg met fillodeeg. Meng die groente met pasta- of kaassous in plaas van die tamatiesous of -puree.

 

Resep: Marilyn Kuier en Kook
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

E.K. die eerste ·

Maroela, let bietjei op: by ” Metode” punt no 1, 2 en 3 is die sinne nie volledig nie. Moet ons jul weer oor die vingers tik vandag? ; )

Dalene de Vente ·

Dagsê E.K.

Dankie vir jou valkoog. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene
nms. Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.