Soorte resepte:

Resep: Patatkoek

Foto: Wenrespete 2

Foto: Wenrespete 2

Mev. Bessie Harmse van Brakpan het hierdie resep baie jare gelede oor die radio gehoor.
Sy sê: “Dis altyd ’n sukses en ek bak dit heel dikwels. Mense se mond hang letterlik oop as ek hulle ’n snytjie patatkoek aanbied en hulle vra altyd ongelowig: ‘Patatkoek?’”

Lewer 1 groot laagkoek

Bestanddele:

Koek

  • 300 g (600 ml) ongesifte koekmeelblom
  • 15 ml bakpoeier
  • 5 ml kaneel
  • 5 ml neutmuskaat
  • 1 ml sout
  • 400 g (500 ml) suiker
  • 375 ml sonneblomolie
  • 60 ml kookwater
  • 4 eiers, geskei
  • 200 g (375 ml) geskilde, grofgerasperde, rou patats
  • 100 g (250 ml) gekapte okkerneute
  • 5 ml vanieljegeursel

Vulsel en versiersel

  • 250 g (500 ml) versiersuiker, gesif
  • 50 g (60 ml) botter of margarien, by kamertemperatuur
  • 1 houer (250 g) gladde maaskaas
  • 50 g (125 ml) gekapte okkerneute
  • ʼn bietjie kaneel

Metode:

Koek

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C (350 °F). Smeer 2 laagkoekpanne, elk met ’n deursnee van 23 cm. Bestuif hulle met ’n bietjie koekmeelblom en skud die oortollige meel uit.
  2. Sif die koekmeelblom, bakpoeier, kaneel, neutmuskaat en sout saam.
  3. Klop die suiker en olie baie goed saam. Voeg die kookwater by en hou aan klop tot al die water ingeklop is. Voeg die eiergele en meelmengsel by en roer tot gemeng.
  4. Voeg die patats, neute en vanieljegeursel by en meng.
  5. Klits die eierwitte tot styf en vou dit liggies met ’n metaallepel in die patatmengsel in. Skep die deeg in die panne en maak dit gelyk.
  6. Bak dit sowat 40 minute lank op die middelste oondrak tot gaar. Laat die koeklae effens in die panne afkoel en keer hulle dan versigtig op ’n draadrak uit om heeltemal koud te word.

 Vulsel en versiersel

  1. Meng die versiersuiker en botter of margarien baie goed saam (die mengsel sal fyngekrummel wees). Voeg die helfte van die maaskaas by en roer tot net gemeng.
  2. Smeer die oorblywende maaskaas op die bokant van elke koekIaag. Smeer die maaskaasversiersel op die maaskaas.
  3. Plaas die koeklae op mekaar. Strooi die neute bo-op om die rand en sif ’n bietjie kaneel in die middel.
  4. Verkoel die koek ’n rukkie in die yskas voor opdiening. Bêre die oorskietkoek in die yskas.

Bron: Huisgenoot Wenresepte 2
Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.