Soorte resepte:

Resep: Polentakoek

polentakoek

Polentakoek. Foto: Multireceitas.com.br

Bestanddele:

  • 225 g sagte botter
  • 225 g strooisuiker of xylitol (maak fyn in koffiemeule)
  • 225 g gemaalde macadamianeute
  • 5 mℓ vanielje
  • 3 eiers
  • Skil van 2 suurlemoene
  • Sap van 1 suurlemoen
  • 115 g polenta
  • 3,75 mℓ gluten-vrye bakpoeier
  • 5 mℓ sout

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 160⁰C.
  2. Voer ‘n 23 cm losboompan uit met bakpapier.
  3. Verroom die botter en strooisuiker/xylitol in ‘n mengbak met ‘n houtlepel of elektriese menger tot lig van kleur.
  4. Voeg die gemaalde macadamianeute en vanielje by. Meng goed.
  5. Voeg die eiers een vir een by en meng baie goed ná elkeen.
  6. Voeg die suurlemoenskil, en-sap, asook die polenta, by en meng goed.
  7. Voeg die gesifte bakpoeier en sout by en meng deeglik.
  8. Skep die beslag in die losboompan en bak vir 45 minute of totdat die toetspen skoon uitkom.
  9. Laat heeltemal in die pan afkoel.

Wenke:

  1. Gemaalde macadamias kan gemaak word deur die neute in ‘n oond te rooster tot goudbruin – dit sal die natuurlike olies vrystel en die geur uitbring.
  2. Plaas in ‘n voedselverwerker en maal tot fyn.

Bron:

Die resep is verskaf deur Althea Nel, ‘n voedselwetenskaplike verbonde aan die Koa Culinary Studio in Pretoria. Lees ook haar rubriek oor ‘n gluten-vrye dieët.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Martha ·

Dit gaan my verstand te bowe dat dit so moeilik is om geel mieliemeel, wat gemaalde geelmielies is, in die hande te kry. Nou moet ek Polenta koop wat net ‘n ander naam vir geelmieliemeel is en peperduur is. Ek kon ‘n jaar gelede 10kg geelmieliemeel by ons plaaslike winkel te koop kry en nou is dit klaar. Hulle bestel nie weer nie. Dit smaak vir my baie lekkerder as witmieliemeel.

Pennie ·

Geniet die Maroele Resepte, maar wens so ek kan dit in my Resepte leêr kry — mens kan dit nie druk nie en ek kan dit ook nie “Copy and Paste” nie, kan julle nie help nie, — asseblief !!!
Dankie.
Pennie

Sune van Heerden ·

Dagsê Pennie

Dankie vir jou boodskap.

Ons moes ongelukkig die funksie wat mens toelaat om teks op die webwerf te kopieer of dat iemand kan regsklik en dan die dokument te kan uitdruk, deaktiveer, aangesien sommige webwerwe ons inligting onregmatig gebruik het.

Maak gerus óf ʼn skermskoot óf klik regs bo op jou webblaaier (“browser”) op die knoppie wat soos drie horisontale lyntjies lyk (op Chrome en Firefox) of ʼn sirkelvormige ratjie (Internet Explorer). Dit maak verdere opsies oop en daar kan jy dan klik “print”. As jy nie ʼn drukker het nie, kan jy die dokument dalk in ʼn .pdf-formaat (elektronies) druk – dan kan jy makliker daarmee werk.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.