Soorte resepte:

Resep: Semel-karringmelkbeskuit

Semel-karringmelkbeskuit

Foto: Wenresepte 2

Dié resep is een van die gewildste beskuitresepte in die land.

Lewer sowat 54 stukke beskuit

Bestanddele:

  • 1,5 kg bruismeel
  • 10 ml bakpoeier
  • 5 ml sout
  • 400 g (500 ml) suiker
  • 1 pak (300 g) All Bran-ontbytvlokkies
  • 375 g (400 ml) botter of margarien, by kamertemperatuur
  • 2 eiers
  • 500 ml karringmelk
  • 300 ml sonneblomolie

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C (350  ̊F). Smeer 3 broodpanne, elk 23 x 13 x 7 cm.
  2. Sif die bruismeel, bakpoeier en sout saam in ’n groot skottel of bak. Voeg die suiker en All Bran-vlokkies by en meng.
  3. Sny die botter of margarien in stukkies. Voeg dit by die meelmengsel en vryf met die vingerpunte in tot heeltemal gemeng.
  4. Klits die eiers en karringmelk saam. Voeg die olie by. Roer hierdie mengsel met ’n houtlepel by die meelmengsel tot goed gemeng.
  5. Knie dit effens tot ’n deeg. Verdeel die deeg in drie en vorm ’n broodjie van elk. Plaas die broodjies in die panne en druk hulle met ’n spaan plat. Sny elke broodjie met ’n mes in 4 cm-vierkante.
  6. Bak die beskuit 50-60 minute lank op die middelste oondrak. Bedek dit met nat bruinpapier as die bokors te donker word.
  7. Keer die beskuit uit die panne en laat effens afkoel op ’n draadrak. Breek die beskuite liggies los en droog in ’n koel oond uit. Bêre die beskuit in ’n lugdigte koekblik of houer.

Bron: Huisgenoot Wenresepte 2
Uitgewer: Human & Rousseau

Net soos ʼn pannekoek met die beste resep nog steeds kan flop, kan Maroela nie pa (of ma!) staan vir enige van die resepte wat jy self by die huis probeer nie. Elke koppie meel, bakpoeier, melk, eier of enige ander bestanddeel is dus in jou eie hande en Maroela Media kan nie enige verantwoordelikheid aanvaar vir komplimente (of klagtes) oor jou kookvernuf nie. -Red

Deel van: Gebak

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae