Soorte resepte:

Resep: Semelkarringmelkbeskuit

Beskuit

Foto: Lekker & Vinnig

Saam met ʼn koppie boeretroos klink hierdie mos soos die perfekte peuselhappie!

(Uit: Spogresepte van die Suid-Afrikaanse Vroue-Landbou-unie, Heleen Meyer)

Lewer ongeveer 1,5 kg beskuit

Bestanddele:

  • 7 x 250 ml koekmeel
  • 375 ml suiker
  • 15 ml bakpoeier
  • 15 ml kremetart
  • 5 ml sout
  • 500 ml semels
  • 500 ml sagte botter
  • 2 eiers
  • 30 ml melk
  • 500 ml karringmelk
  • 5 ml koeksoda

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer twee broodpanne met botter.
  2. Sif die meel, suiker, bakpoeier, kremetart en sout in ‘n groot mengbak saam. Roer die semels by.
  3. Vryf die botter met jou vingerpunte in die meelmengsel in.
  4. Klits die eiers, melk en karringmelk saam. Los die koeksoda in ‘n klein bietjie water op en roer dit by die eiermengsel.
  5. Meng die eiermengsel met die meelmengsel om ‘n sagte deeg te vorm.
  6. Rol die deeg in balletjies en pak dit teen mekaar in die panne.
  7. Bak dit vir 40 minute of tot goudbruin en gaar. Keer dit uit en laat heeltemal afkoel. Breek die balletjies versigtig los en pak dit op bakplate.
  8. Voorverhit die oond tot 100°C en droog die beskuit 6-8 ure of oornag uit. Laat die oonddeur op ‘n skrefie oop.

Variasies

Vervang die semels met volkoringmeel en voeg ‘n bietjie ekstra melk by indien die deeg te droog is. Voeg sade van jou keuse by die droë bestanddele, soos Iyn-, sonneblom-, pampoen- of sesamsaad. Strooi ekstra sade oor die rou deeg, druk dit liggies vas en bak soos hierbo beskryf.

Wenk:

Die resep pas perfek in ‘n groot vlekvryestaalpan met ‘n snyraam om ewe groot stukkies te sny. Smeer die pan en druk die deeg plat daarin, spuit die snyraam met kleefwerende kossproei en druk dit deur die rou deeg. Lig dit versigtig uit en bak die beskuit. Die gaar stukkies kom perfek uit reg om gedroog te word.

Bron: Lekker & Vinnig
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Bosmens ·

Vertel my, vertel my asseblief. Hoe op aarde word die meel in milliliter afgemeet? As jy dit sou uitskep met ‘n maatkoppie, sal die partikels digter gepak wees en dan gaan die mengsel baie droog wees, aangesien die opbrengs slegs 1.5kg beskuit is.

Werklik…hoe op aarde weeg mens droog bestandele af in eenhede wat spesifiek geskep is vir vloeibare stowwe?

Sune van Heerden ·

Dagsê Bosmens

Ons het bevestig die mates, soos in hierdie resep aangedui, is definitief soos dit oorspronklik in die boek ook gepubliseer is. Christelle Erasmus, die samesteller van Leserskring Spogresepte, het vantevore aan ons bevestig dat droë bestanddele ook in vloeistofmate aangedui kan word. Wanneer ‘n resep byvoorbeeld dan verwys na “1 liter bruismeel”, kan dit met ‘n literhouer afgemeet word.

Laat weet ons gerus hoe smaak die beskuit!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Hennie ·

Eks is seker dat die 7x250ml koekmeel dieselfde is as 7 koppies koekmeel. Dieselfde geld vir die ander ml mate: kyk maar net hoeveel koppies (250ml) dit is!

Bosmens ·

Haai Suné

Uiteindelik kon weer terugkeer na hierdie blad toe. Baie dankie vir jou kommentaar. Laat ek my dilemma hier in detail meedeel. Ek weet dit is dalk pynlik, ek is ‘n wetenskaplike en gevolglik…

Sou jy die meel uitskep uit bv. die papiersak waarin jy die meel koop, sou die partikels minder dig gepak wees as wanneer jy dit sou uitskep en dan saamdruk in die 250ml maatkoppie. Ek kan verder pynlik wees as jy bv. die meel sou insif in die 250ml houer en baie lug is teenwoordig tussen die partikels.

Of is ek dalk net onbedaarlik pynlik hier? Skep die maatkoppie vanuit die 2.5kg papiersak, skud liggies om seker te maak die meeste lug is uit tussen die partikels en gaan voort? Vertel my asseblief. Ek is ‘n bosmens en ek kan vir weke net op beskuit leef.

Baie dankie

Sune van Heerden ·

Dagsê Bosmens

Maroela Media is ongelukkig nie die samesteller van die boek of die resep nie. Ons publiseer bloot resepte gratis hier op Maroela wat ons lesers na willekeur kan gebruik.

Jy is welkom om die uitgewer van die boek, Lekker en Vinnig, te kontak vir enige verdere navrae:
Lapa Uitgewers: [email protected]

Geniet die beskuit!
Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.