Soorte resepte:

Resep: Sjokolade-en-aarbei-gâteau

Sjokolade-en-aarbei-gâteau (Foto: Lapa-uitgewers)

Hierdie koek sal jou asem wegslaan.

Lewer 1 koek

Bestanddele

KOEK

  • 375 ml kookwater
  • 125 ml olie
  • 125 ml kakao, gesif
  • 4 ekstragroot eiers
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 375 ml strooisuiker
  • 500 ml bruismeel, gesif
  • knippie sout

SJOKOLADE-GANACHE

  • 125 ml room
  • 15 ml suiker
  • 15 ml botter
  • 150 g donkersjokolade

AARBEIROOM

  • 375 ml geblikte aarbeie
  • 125 ml suiker
  • 15 ml suurlemoensap
  • knippie sout
  • 500 ml room, styf geklits
  • 15 ml gelatien
  • 45 ml water

VIR VERSIERING

  • vars aarbeie, in gesmelte sjokolade gedoop

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.

KOEK

  1. Meng die kookwater, olie en kakao en laat dit afkoel.
  2. Klits die eiers en vanieljegeursel saam tot romerig en liggeel. Voeg die strooisuiker geleidelik by die eiermengsel terwyl dit aanhoudend geklits word tot romerig.
  3. Klits die bruismeel en sout by en vou die kakaomengsel in.
  4. Skep die beslag in twee gesmeerde 23 cm-koekpanne en bak vir 30 minute of tot die koek terugspring as daarop gedruk word. Laat koeke 10 minute in panne afkoel, voordat dit uitgekeer word. Laat heeltemal afkoel en halveer elke laag om 4 lae te lewer.

AARBEIROOM

  1. Verpulp die aarbeie saam met die suiker, suurlemoensap en ’n knippie sout in ’n voedselverwerker en vou die room in.
  2. Strooi gelatien oor water en laat staan ’n rukkie totdat dit die water geabsorbeer het. Smelt die oplossing oor ’n bakkie kookwater terwyl geroer word tot goed opgelos of tot gelatien verhelder.
  3. Voeg gelatienoplossing by aarbeiroom.
  4. Plaas aarbeiroom in yskas vir omtrent 20 minute of tot gestol.

SJOKOLADE-GANACHE

  1. Verhit die room, suiker en botter oor lae hitte tot kookpunt.
  2. Breek die donkersjokolade in blokkies en voeg dit geleidelik by terwyl die roommengsel deurentyd geroer word tot dit verdik. Laat dit vir sowat 30 minute in die yskas afkoel. Dit sal dikker word namate dit kouer word.

AFRONDING

  1. Smeer aarbeiroom op drie koeklae en plaas die lae op mekaar. Plaas die laaste laag op, smeer sjokolade-ganache bo-op en laat van die ganache langs die kante afdrup.
  2. Versier die bokant met aarbeie wat in gesmelte sjokolade gedoop is.

Bron: Soet en sout deur Margie van Tonder

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.