Soorte resepte:

[Resep] Sjokolade-en-jogurtkoekies

Sjokolade-en-jogurtkoekies (Foto: Lapa-uitgewers)

Maak sommer nóú ʼn baksel van hierdie heerlike koekies vir die naweek!

Lewer 48 koekies

Bestanddele:

Koekies

  • 125 g (¼ blok) botter
  • 250 ml (1 k) strooisuiker
  • 1 ekstragroot eier
  • 625 ml (2½ k) koekmeel
  • 90 ml (5 e) kakao
  • 5 ml (1 t) fyn kaneel
  • knypie sout
  • 2,5 ml (½ t) koeksoda
  • 75 ml (5 e) natuurlike jogurt
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel

Afronding

  • 200 g (1 groot plak) donkersjokolade, gesmelt
  • 50 g (½ pakkie) pekanneute, fyngekap

Metode:

  1. Stel oond op 180 °C.

Koekies

  1. Room botter en suiker tot liggeel.
  2. Klits eier goed by.
  3. Sif meel, kakao, kaneel, sout en koeksoda.
  4. Meng jogurt en vanieljegeursel en roer beurtelings saam met meelmengsel by bottermengsel tot deeg vorm. Voeg nog ʼn bietjie meel by as deeg te klewerig is.
  5. Rol deeg in klein balletjies en plaas effens uitmekaar op bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is.
  6. Druk met paletmes platter en bak vir 12 tot 15 minute.
  7. Plaas koekies op afkoelrakkie en laat eenkant tot heeltemal afgekoel.

Afronding

  1. Doop helfte van koekie in gesmelte sjokolade en plaas op waspapier.
  2. Sprinkel klein bietjie neute bo-oor en laat stol.

Bron: Vinnig en maklik: Resepte uit Vrouekeur 3

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.