Soorte resepte:

Resep: Sjokolade-en-tiramisu-koek

Sjokolade-en-tiramisu-koek (Lapa-uitgewers)

Partykeer moet jy jou gaste of gesin met ʼn uitspattige koek bederf!

Lewer 1 koek

Bestanddele

KOEK

  • 500 ml koekmeel
  • 10 ml bakpoeier
  • 185 ml strooisuiker
  • 4 eiers, geskei
  • 125 ml kookolie
  • 185 ml melk
  • 60 ml water
  • knippie sout
  • 1 ml kremetart

KOFFIELAAG

  • 185 ml ekstra sterk aangemaakte koffie, afgekoel
  • 30 ml likeur, byvoorbeeld Tia Maria
  • 350 g Nutella-smeer

SJOKOLADEBAND

  • 200 g (1 groot plak) donkersjokolade, gesmelt
  • 1 groot pak vars frambose
  • paar gekapte pistachioneute

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C.

KOEK

  1. Sif die koekmeel en bakpoeier saam.
  2. Klits die strooisuiker, eiergele en olie tot liggeel. Meng by die meelmengsel.
  3. Meng die melk en water en roer by die beslag.
  4. Klits die eierwitte, sout en kremetart tot styf en vou by die beslag in.
  5. Skep die beslag in twee ronde koekpanne met 20 cm-deursnee wat met bakpapier uitgevoer is.
  6. Bak vir 25 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.
  7. Laat bietjie in die koekpanne afkoel. Keer op ʼn afkoelrakkie uit om heeltemal af te koel en verwyder die bakpapier.

KOFFIELAAG

  1. Meng die koffie en likeur.
  2. Sny die koeke horisontaal in die middel deur.
  3. Sprinkel die koffie oor die twee koeklae. Smeer die ander twee koeklae met die sjokoladesmeer. Onthou om ’n bietjie sjokoladesmeer uit te hou vir bo-op koek.
  4. Plaas die vier koeklae om die beurt opmekaar en rond die koek met sjokoladesmeer af.

SJOKOLADEBAND

  1. Meet hoe hoog die koek is. Sny ’n stuk bakpapier wat om die koek pas en ongeveer 1,5 cm hoer as die bokant van die koek is.
  2. Smeer die gesmelte sjokolade met ’n paletmes op die bakpapier. Laat eenkant droog word, maar nie hard nie, anders sal dit kraak.
  3. Vou die bakpapier met sjokolade om die koek en laat dit hard word.
  4. Trek die bakpapier versigtig af.
  5. Pak die bokant van die koek vol frambose. Sprinkel die neute oor.

Bron: Lekker & vinnig: Koeke

Uittreksel: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.