Soorte resepte:

[Resep] Sjokolade-wortelkoek

sjokolade-wortelkoek

Foto: Wenresepte 2

Reinette Lotter van Stellenbosch het al verskeie pryse met hierdie resep gewen, onder meer ’n motor in Huisgenoot se Groot Bakwedstryd in 1982.

Lewer 1 groot laagkoek

Bestanddele:

Wortelkoek

  • 250 ml heuning
  • 20 g (50 ml) kakao
  • 180 g (325 ml ongesifte) koekmeelblom
  • 7 ml koeksoda
  • 7 ml bakpoeier
  • 3 ml sout
  • 185 g (200 ml) botter of margarien, by kamertemperatuur
  • 3 eiers
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 5 ml rumgeursel
  • 160 g (500 ml) grofgerasperde geelwortels
  • 100 g (250 ml) gekapte okkerneute

Rosynevulsel

  • 140 g (150 ml) sagte bruinsuiker
  • 60 ml water
  • 60 g (100 ml) pitIose rosyne, fyngesnipper
  • 125 g botter of margarien, by kamertemperatuur
  • 10 ml rumgeursel
  • knippie sout

Roomkaasversiersel

  • 250 g botter of margarien, by kamertemperatuur
  • 1 houer (230 g) roomkaas
  • 20 g (50 ml) kakao
  • 140 g (150 ml) sagte bruinsuiker, in ’n versapper of voedselverwerker verpoeier
  • 5 ml vanieljegeursel
  • 5 ml rumgeursel
  • 100 g (250 ml) fyngekapte okkerneute
  • rosyne, glanskersies of engelkruid (angelika)

Metode:

Wortelkoek

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C (350 °F). Smeer 2 laagkoekpanne, elk met ’n deursnee van 20 cm. Bedek die bodem met gesmeerde waspapier.
  2. Verhit 50 ml van die heuning, voeg die kakao by en roer tot glad. Meng dit met die res van die heuning en laat afkoel. Sif die koekmeelblom, koeksoda, bakpoeier en sout saam.
  3. Klop die botter of margarien en heuningmengsel goed saam. Voeg die eiers een vir een by en klop goed ná elke byvoeging. Voeg die meelmengsel by en meng goed.
  4. Roer die vanielje- en rumgeursel by. Roer die wortels en neute by.
  5. Skep die deeg in die panne en maak dit gelyk. Bak dit 30-35 minute lank op die middelste oondrak. Keer die koekpanne op ’n draadrak uit en laat die lae afkoel.

Rosynevulsel

  1. Roer intussen die bruinsuiker en water tot die suiker opgelos het. Voeg die rosyne by. Kook die mengsel sowat 5 minute lank oor baie lae hitte en roer aanhoudend. Haal dit van die stoof af en laat afkoel.
  2. Klop die koue rosynemengsel geleidelik by die botter of margarien tot die vulsel lig en donsig is. Roer die rumgeursel en sout by.
  3. Smeer die rosynevulsel op een koeklaag. Plaas die ander koeklaag bo-op.

Roomkaasversiersel

  1. Klop die botter of margarien en roomkaas saam tot lig en donsig. Klop die kakao by. Klop die verpoeierde bruinsuiker lepelsgewys by. Roer die vanielje- en rumgeursel by.
  2. Smeer roomkaasversiersel aan die kant van die koek.
  3. Druk gekapte neute teen die kant vas. Hou ’n bietjie van albei vir bo-op. Bedek die koek bo-op met die res van die roomkaasversiersel en spuit skulpies om die boonste en onderste rand.
  4. Spuit ’n sirkel van sterretjies in die middel en vul dit met neute, rosyne en glanskersies of engelkruid (angelika).

Bron: Wenresepte 2
Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kwikstertjie ·

My mond water vir dié ryk lieflikheid van ‘n koek. Ek lewe van aartappels en kitskoffie. Wens ek het al die bestandele gehad dan het ek dit nou gebak, my mooi bordjies uitgehaal en iemand genooi om sommer die mooi somersdag se seëninge te vier.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.