Lewer een tert.
Bestanddele vir die tertkors:
- 100 g (½ pak) Cream Cracker-beskuitjies
- 90 g (100 ml) botter of margarien, gesmelt
Bestanddele vir die sjokoladevulsel:
- 25 ml gelatien
- 100 ml koue water
- 40 g (75 ml) koekmeelblom
- 160 g (200 ml) suiker
- 4 eiers, geskei
- 750 ml kookmelk
- 5 ml vanieljegeursel
- 200 g melksjokolade
- Versoete, styfgeklitste room vir versiering.
Metode:
- Voorverhit die oond tot 150 °C.
- Rol die beskuitjies fyn, meng met die botter of margarien en voer ‘n vlak tertbord met ‘n deursnee van 25 cm daarmee uit. Bak 10 minute lank. Laat koud word.
- Week die gelatien in die koue water. Meng die koekmeelblom en suiker. Klits die eiergele (verkieslik in die boonste deel van ‘n dubbelkastrol) en klop die melk geleidelik by. Roer die meelmengsel by, plaas dit opdie stoof (op kookwater), roer aanhoudend en kook dit tot die vla dik en gaar is. Verwyder van die hitte en roer die gelatien en geursel by. Hou 2-3 blokkies sjokolade eenkant en smelt die res oor kookwater. Klits die eierwitte styf.
- Voeg die helfte van die vlamengsel en sowat 100 ml van die eierwit by die sjokolade en klop tot goed gemeng. Giet op die koue kors en plaas in die yskas. Vou die res van die eierwit in die res van die vlamengsel in en hou dit louwarm. Skep dit op die sjokoladelaag wanneer dit begin styf word. Verkoel. Versier met room en rasper die oorblywende sjokolade bo-oor. Verkoel goed.
Bron:
Uit: Huisgenoot Wenresepte 1 deur Anette Human
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R285-00*
* Prys onderhewig aan verandering
As ek die woord gelatien sien hou ek verby! Jammer ek weet, ek het seker ‘n kopskuif nodig (soos vele ander!) en dis glo nie so moeilik om te gebruik nie, maar wat my betref – ek koop sommer net ‘n lekker choccie en eet hom op! Baie makliker!
Julle blad is puik!!