Ek het nog nooit teruggedeins vir meringue klits of pavlova maak nie – ek het dit darem nét te veel onder my ma se wakende oog moes doen. Die grootste geheim is om die suiker net bietjie vir bietjie by te voeg sodat dit fluweelglad in die meringue ingeklits word, anders gaan die meringue “nat trek en trane huil”, soos my ma altyd gesê het.
Bestanddele:
Basiese meringue
- 6 ekstragroot eierwitte
- ʼn knippie sout
- 300 g strooisuiker
- 15 ml (1 e) asyn
- 5 ml (1 t) mielieblom
- 100 g pistasieneute, gekap (opsioneel)
Vulsel
- 125 ml (½ k) Griekse jogurt
- 125 ml (½ k) room, styfgeklits
- 60 ml (¼ k) suurlemoensmeer
- verskeidenheid vars vrugte, soos bessies, aarbeie, vye, turksvye, druiwe, geskil soos nodig en in stukke gesny
- grenadellapulp vir bo-oor
- versiersuiker om oor te stuif
Metode:
- Voorverhit die oond tot 120 °C. Voer ʼn bakplaat met bakpapier uit, spuit met kleefwerende kossproei en stuif met mielieblom.
Meringue
- Klits die eierwitte saam met die sout tot skuimerig.
- Voeg die strooisuiker lepel vir lepel by en klits elke keer goed tot dik en blink.
- Vou die asyn in. Stuif die mielieblom oor en vou deur.
- Skep ʼn ruwe sirkel op die bakplaat en skep balle meringue op die kante om ʼn rand te vorm.
- Strooi die neute oor.
- Bak vir 1 tot 1½ uur tot bros en gaar. Skakel die oond af en laat afkoel.
Vulsel
- Meng die jogurt en room en marmer die suurlemoensmeer deur. Skep in die meringue-mandjie.
- Stapel die vrugte bo-op en skep die grenadellapulp oor. Stuif met versiersuiker.
Wenk
Die meringue-mandjie kan vir ʼn paar dae in ʼn lugdigte houer gebêre word. Skep die vulsel in net voordat jy dit voorsit, anders raak die meringue pap.
Bron: Carmen se beste resepte
Uitgewer: Human & Rousseau