Dié klink soos iets wat ons graag sal wil proe!
(Uit: Vinnig en maklike resepte, Vrouekeur 3, Marlo Carstens)
Lewer 12 porsies
Bestanddele:
Kors
- 60 ml botter
- ʼn knippie fyn kaneel
- 200 g (1 pak) Tennis-beskuitjies, fyngemaak
Vulsel
- 250 ml Cremora
- 250 ml yswater
- 385 g (1 blik) kondensmelk
- 125 ml suurlemoensap
- 10 ml gelatienpoeier
- 30 ml water
Metode:
- Kors: Smelt die botter saam met die kaneel en roer by die fyngemaakte koekies tot gemeng.
- Druk die koekiekrummels op die bodem van ʼn gesmeerde tertbord of ʼn ronde losboomkoekpan vas.
- Vulsel: Klits die Cremora en water vir 10 minute met ʼn elektriese klitser.
- Roer die kondensmelk en suurlemoensap tot goed gemeng.
- Spons die gelatien in water en verhelder oor ʼn bakkie kookwater tot opgelos.
- Meng die Cremora-mengsel, kondensmelkmengsel en gelatien vinnig.
- Skep op die kors en plaas in die yskas om te stol. Sit koud voor.
Variasies:
- Jy kan ook 500 ml aarbeijogurt byvoeg. Vermeerder die gelatien na 20 ml.
- Gebruik 1 pakkie jellie wat met 125 ml kookwater aangemaak is in plaas van gelatien. Laat die jellie eenkant tot goed afgekoel en roer by Cremora-mengsel.
- Verdeel die Cremora-mengsel in twee net voor dit in die tertbord geskep word. Roer 100 g gesmelte sjokolade by een deel. Giet in die tertbord en plaas in die yskas tot gestol. Giet die oorblywende Cremora-mengsel bo-op. Verkoel in die yskas tot gestol.
Bron: Lekker en Vinnig
Uitgewer: Lapa