Soorte resepte:

[Resep] Suikermielie-muffins

Suikermielie-muffins (Foto: Lapa-uitgewers)

ʼn Geurige goudkleurige muffin geskik vir ontbyt óf bykos saam met braaivleis!

Lewer 12 groot muffins

Bestanddele

  • 250 ml/120 g koekmeelblom
  • 250 ml/150 g gesifte mieliemeel
  • 15 ml bakpoeier
  • 10 ml suiker
  • 2,5 ml sout
  • knippie rooipeper of rissiepoeier – opsioneel
  • 50 g of ± 16 halwes songedroogde tamaties
  • 2 groot eiers
  • 30 ml sonneblom- of avokado-olie
  • 150 ml ongegeurde vetvrye jogurt
  • 415 g-blik roomsoort-suikermielies
  • 30 ml vars pietersielie of koljanderblare, gekap

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C.
  2. Sif die koekmeel, mieliemeel, bakpoeier, suiker, sout en rooipeper saam.
  3. Snipper die songedroogde tamaties met ʼn kombuisskêr in klein stukkies en voeg dit by die droë bestanddele.
  4. Klits die eierwit styf.
  5. Klits die eiergeel, olie en jogurt saam en roer die suikermielies en pietersielie by.
  6. Voeg die suikermieliemengsel by die droë bestanddele en roer tot net gemeng. Vou die styfgeklitste eierwit in.
  7. Skep dit in ʼn muffinpannetjie en bak 35 tot 40 minute tot goudkleurig en gaar.
  8. Laat die muffins vir 10 minute in die pannetjie afkoel voordat dit uitgelig word.

Variasie

  1. Vervang die songedroogde tamaties met rosyne of bosbessies.
  2. Voeg gekapte vars kruie soos basiliekruid of stingelui aan die einde van stap 3 by.

Bron: Uitpakkos

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.