Soorte resepte:

Resep: Suurlemoen-meringuekoek

Suurlemoen-meringuekoek (Foto: Lapa Uitgewers)

’n Heerlike verrassing vir die soettande in die gesin.

 Lewer 1 groot koek

BESTANDDELE

Soet deeg

  • 250 g sagte botter
  • 150 ml suiker
  • 2 eiers
  • 750 ml koekmeel
  • 20 ml bakpoeier
  • knippie sout


Meringue

  • 6 eierwitte
  • 500 ml strooisuiker
  • knippie sout


Vulsel

  • 794 g (2 blikke) kondensmelk
  • 250 ml suurlemoensap
  • 6 eiergele
  • 250 ml room, geklits

 METODE

  1. KORS: Voorverhit die oond tot 180 ° Keer vier 23-cm-koekpanne in deursnee onderstebo. Bedek die bodems met aluminiumfoelie en bespuit met kleefwerende kossproei.
  2. Room die botter en suiker saam tot romerig en klits die eiers by.
  3. Sif die meel, bakpoeier en sout saam en meng dit met die eiermengsel.
  4. Druk die deeg op die panne vas en sny die rande netjies.
  5. Bak vir 10 minute. Laat effens afkoel en verwyder dan versigtig.
  6. MERINGUE: Verlaag die oond se temperatuur na 160 °
  7. Klits die eierwitte tot sagte puntjies vorm. Klits die strooisuiker geleidelik by.
  8. Plaas aluminiumfoelie, met die dowwe kant na bo, oor die bodem van ’n omgekeerde 23-cm-koekpan en bespuit dit met kleefwerende kossproei. Smeer die meringue op die foelie,
  9. Bak vir 30-minute tot bros en liggoudkleurig. Wanneer afgekoel, draai die meringue om en trek die foelie versigtig af.
  10. VULSEL: Klits die kondensmelk en suurlemoensap saam tot die mengsel verdik.
  11. Klits die eiergele by tot goed gemeng.
  12. AFRONDING: Voorverhit die oond weer tot 180 °C.
  13. Smeer ’n 23-cm-losbodem-veerkoekpan.
  14. Plaas een laag kors in die pan en skep ’n kwart van die vulsel daarop. Plaas nog ’n laag kors bo-op en skep nog ’n kwart van die vulsel op. Herhaal die lae en eindig met ’n laag vulsel.
  15. Bak tot die kondensmelkmengsel verdik, ongeveer 15-20 minute.
  16. Haal uit die oond en laat afkoel. Verwyder die pan versigtig.
  17. Skep die room op die koek en plaas die meringue-laag bo-op.

 

Bron: Lekker & vinnig: Koeke

Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.