Soorte resepte:

[Resep] Tuisgemaakte koeksisters

Foto: Lekker en Vinnig

Tuisgemaakte koeksisters. Foto: Lekker en Vinnig

Saam met ʼn koppie boeretroos klink hierdie mos soos die perfekte peuselhappie!

Lewer 20 dosyn

Bestanddele:

Deeg

  • 2,5 kg koekmeel
  • 25 ml sout
  • 75 ml bakpoeier
  • 125 g (125 ml) margarien of botter
  • 10 eiers, geklits
  • ± 1,25 liter water
  • olie vir diepbraai

Stroop

  • 2,5 kg suiker
  • 1,25 liter water
  • 25 ml gouestroop
  • 4 ml kremetart
  • 15 ml heel kruienaeltjies
  • 2 ml wynsteensuur
  • 40 ml brandewyn

Metode:

  1. DEEG: Sif die koekmeel, sout en bakpoeier saam in ʼn groot mengbak.
  2. Vryf die margarien of botter met vingerpunte in die meelmengsel. Voeg die eiers by en meng goed.
  3. Voeg die water by en knie ± 20 minute in die mengbak tot glad. Bedek met ʼn skoon, klam afdroogdoek of kleefplastiek en laat oornag rys.
  4. STROOP: Meng die suiker, water, gouestroop, kremetart en kruienaeltjies in ʼn groot kastrol en kook vir 3 minute.
  5. Verwyder van die hitte en roer die wynsteensuur en die brandewyn by.
  6. Laat afkoel en plaas dit oornag in die yskas.
  7. Haal die naeltjies uit net voordat die stroop gebruik word.
  8. Rol deeg op ʼn meelbestrooide oppervlak tot 1 mm dik uit. Sny en vleg die deeg en bak in warm, diep olie tot goudbruin. Skep met ʼn gaatjieslepel uit en dompel dadelik in yskoue stroop. Laat koeksisters op ʼn afkoelrakkie afdrup.

Wenk:

Die stroop kan ʼn tweede keer gebruik word.

Bron: Lekker en Vinnig – Tradisionele kos
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Eet saam, GKSA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Delia ·

Dit klink heerlik, maar wie op aarde, behalwe ‘n bakkery of ‘n kerk bazaar, bak 20 dosyn op een keer? Dit wel ook nie altyd so goed as mens dit wil verminder tot twee of drie dosyn nie. Kan wel probeer om die stroop te verminder, want dit is wat die koeksisters lekker maak.

Bettie Herbst ·

Moet eenvoudig die resep beproef. Lyk heerlik! Baie dankie

SNEL ·

Ek het al 20doz koeksisters gebak. Dis geen ou se speelmaat nie, en veral as mens dit nog ordentlik vou soos die hierbo op die foto en sorg dat hulle ewe groot is. Ek moet sê, ek glo nie die stroop van 1,25 liter water gaan genoeg wees vir 20doz koeksisters nie, eerder 24 koppies suiker en 3 liter water. As hier n baasbakster is, sê my; as ek koeksisters bak, is hulle heerlik en vol stroop, maar hoe langer dit in die yskas is, is dit of die stroop verdwyn, maar tog loop die stroop nie uit nie. Nou hoor ek n koeksister soek nie n yskas nie, dis bak en vinnig opeet of in die vrieskas sit en dit dan uit die vrieskas gebruik, maar dis n yskas wat hulle stadig maar seker droog maak. Is dit so of hoe?

Amber ·

Lyk heerlik!! Op die foto is suurlemoen skil en stêr annys in die stroop, maar nie in die resep nie.

Elsie moller ·

Snel koeksisters met eiers in is geneig om gou glans te verloor en die tekstuur is meer koekerig as koeksisters met geen eiers Koeksisters oet in toe houer in vrieskas gesit word en in die yskas word dit gewoonlik oop ingesit Op die foto kan jy sien die koeksisters is nie die hardedop koeksisters wat vol stroop is nie Dit het nie daardie baie blink glans nie

SNEL ·

Elsie, baie dankie, ek sou nou nooit kon raai dis die eiers wat dit doen nie. Ek gaan nou beslis n resep soek wat nie eiers in het nie en kyk hoe dit werk en hoe lank hulle dan in die yskas stroperig bly. Ek hou ook gewoonlik my koeksisters oop (maar net as ek vandag gebak het tot môre wat ek hulle verpak) in die yskas, maar as ek hulle verpak is hulle in sakkies, ek weet nie of dit ook n inpak kan hê as dit in sakkies is nie. Ek gaan beslis n resep sonder eiers probeer. Ek het al gewonder hoe bly die koeksisters in tuisnywerhede so stroperig vir n weke en myne se stroop disintegreer net, nêrens sien ek waarheen die stroop is nie, maar binne is die koekerig en kan mens sien daar was stroop, maar dis nou weg. Baie dankie vir jou raad!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.