Soorte resepte:

[Resep] Veelsydige brosdeeg

Veelsydige brosdeeg (Foto: Carmen se beste resepte)

Veelsydige brosdeeg (Foto: Carmen se beste resepte)

Met hierdie basiese brosdeegresep bak ek brosbrood en koekies, ek gebruik dit as deeg vir tertkorse en ek maak selfs soet pizza daarmee. Dis ʼn wonderlike resep wat deel móét wees van jou resep-repertoire, skryf Carmen Niehaus.

Basiese brosdeeg

  • 250 g yskoue botter, in stukke gesny
  • 250 ml (1 k) versiersuiker, gesif
  • 500 ml (2 k) koekmeel
  • 80 ml (⅓ k) mielieblom
  • 80 ml (⅓ k) papawersaadjies, of gekapte kruie (opsioneel)

Algemene metode

  1. Plaas al die bestanddele in ʼn voedselverwerker. Verwerk tot die botter goed in die meel ingemeng is en ʼn deegbal om die lem vorm.
  2. Skep uit die voedselverwerker. Vorm in ʼn bal, draai in kleefplastiek toe en verkoel ʼn halfuur lank.

Brosbrood

  1. Berei die deeg sonder saadjies of kruie en druk in ʼn 20 cm vierkantige koekpan vas.
  2. Merk in lang stafies, druk vurkmerke op elke stafie en strooi strooisuiker oor.
  3. Bak 10 minute teen 200 °C, verminder die hitte na 160 °C en bak nog sowat ʼn halfuur of tot ʼn ligte strooikleur.
  4. Strooi ekstra strooisuiker oor.
  5. Laat afkoel en sny in stafies.

Kruiekoekies

  1. Berei die deeg. Plaas vars kruietakkies op ʼn plat oppervlak, druk die deeg daarop vas, plaas ʼn vel kleefplastiek of bakpapier bo-oor en rol die deeg tot so 3 mm dik uit (die kruie sit aan die onderkant vas).
  2. Haal die kleefplastiek of bakpapier af en druk koekies in enige vorm uit.
  3. Plaas op ʼn bakplaat en bak sowat 8-12 minute teen 180 °C tot gaar.
  4. Sit voor met kaas.

Hartjiekoekies

  1. Berei die deeg sonder saadjies of kruie en rol 3 mm dik uit.
  2. Druk hartjies met ʼn koekiedrukker uit.
  3. Plaas die helfte van die deeghartjies op ʼn bakplaat.
  4. Plaas ʼn skeppie roomkaas en ʼn lepeltjie konfyt op elkeen.
  5. Smeer die kante met water. Plaas nog ʼn deeghartjie bo-op en druk die kante met ʼn vurk vas.
  6. Sny ʼn kruisie in die middel. Smeer die bokant met melk en strooi suiker oor.
  7. Bak sowat 12-15 minute teen 180 °C of tot goudbruin en gaar.
  8. Laat effe afkoel op die bakplate en plaas dan op ʼn draadrakkie om heeltemal af te koel. Stuif met versiersuiker.

Konfytkoekies

  1. Berei die deeg sonder saadjies of kruie, rol uit en druk sirkels uit.
  2. Druk klein gaatjies in die middel van die helfte van die sirkels.
  3. Pak al die koekies op ʼn bakplaat en bak 8-10 minute of tot gaar teen 180 °C.
  4. Laat afkoel. Plak ʼn sirkel met ʼn gaatjie en ʼn heel sirkel opmekaar met aarbeikonfyt Stuif met versiersuiker.

Hertzoggies

  1. Berei die deeg sonder saadjies af kruie en rol dun uit.
  2. Druk groot sirkels uit met ʼn koekiedrukker en voer die holtes van ʼn kolwyntjiepan daarmee uit.
  3. Skep ʼn klontjie appelkooskonfyt in.
  4. Klits 3 eierwitte styf en voeg 250 ml (1 k) strooisuiker geleidelik by terwyl jy klits.
  5. Roer 125 ml (½ k) klapper by.
  6. Skep lepels vol van die mengsel oor die konfyt tot goed bedek.
  7. Bak 20-25 minute teen 180 °C tot die kors gaar en goudbruin is.

Vrugtepizza

  1. Berei die deeg en rol in ʼn groot plat sirkel uit.
  2. Plaas op ʼn omgekeerde bakplaat en bak sowat 20 minute by 180 °C of tot net gaar.
  3. Breek ʼn wiggie brie-kaas in growwe stukke en pak op die deeg.
  4. Plaas net voordat jy dit voorsit weer in die oond, met die roosterelement aan en verhit tot die kaas net gesmelt is, sowat 5 minute.
  5. Plaas op ʼn groot dienbord of plank. Halveer perskes en nektariens (indien te groot) stuif met versiersuiker en rooster onder die roosterelement tot effens verbruin.
  6. Stapel saam met vars vrugte op die brosbroodpizza.
  7. Meng ʼn hand vol gesoute neute met 60 ml (¼ k) heuning en skep oor die pizza.

Bron: Carmen se beste resepte

Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.