Soorte resepte:

Resep: Vlapoffertjies

Foto: 50 beste gebak uit Vrouekeur

Hierdie poffertjies is die voorbereidingstyd werd!

Lewer sowat 48 poffertjies.

Bestanddele

Poffertjies

  • 500 ml (2 k) water
  • 200 g botter
  • 375 ml (1½ k) koekmeel
  • 2,5 ml (½ t) sout
  • 6 tot 8 ekstragroot eiers

Vlavulsel

  • 500 ml (2 k) melk
  • 30 ml (2 e) strooisuiker
  • knypie sout
  • 100 ml (6 e + 2 t) vlapoeier
  • 125 g (¼ blok) botter, by kamertemperatuur
  • 250 ml (1 k) strooisuiker
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel

Afronding

  • 250 ml (1 k) versiersuiker, gesif
  • 10 ml (2 t) warm water

Stel oond op 200 °C

Metode

Poffertjies

  1. Verhit water en botter in kastrol tot kookpunt. Verwyder van hitte.
  2. Sif koekmeel en sout. Voeg by bottermengsel en roer vinnig met houtlepel tot dit ʼn bal vorm.
  3. Plaas kastrol terug op stoofplaat en roer vir nog 1 minuut. Verwyder van hitte en laat 10 minute afkoel.
  4. Klits ses eiers goed en voeg net bietjie op ʼn slag by. Dit mag dalk nie nodig wees om al die eiers by te voeg nie. Klits nog eiers soos benodig. Deeg moet blink en sag genoeg wees om van lepel af te val.
  5. Skep deeg in versiersak en spuit balletjies op bakplaat wat met bakpapier gevoer is.
  6. Bak vir 25 minute of tot uitgepof en goudbruin.
  7. Skep poffers op afkoelrakkie en maak klein snytjie in sodat stoom kan ontsnap.
  8. Laat eenkant tot heeltemal afgekoel.

Vlavulsel

  1. Verhit melk, strooisuiker en sout tot kookpunt.
  2. Maak vlapoeier met bietjie van warm melk tot gladde pasta aan.
  3. Voeg nog warm melk by en roer tot glad. Roer vlamengsel by res van warm melk in kastrol.
  4. Draai hitte laer en kook tot verdik.
  5. Skep vla in glasmengbak oor. Bedek met kleefplastiek en laat ongeveer 1½ uur tot vla amper kamertemperatuur is. Roer deur. Plaas weer kleefplastiek oor en laat nog halfuur afkoel.
  6. Room botter en strooisuiker tot liggeel net voor twee uur staantyd van vla verby is.
  7. Roer bottermengsel by vla sodra dit koud is. Maak seker vla is goed afgekoel, anders sal dit skif.
  8. Roer vanieljegeursel by vla. Vla kan tot by hierdie punt gemaak word en in yskas gehou word tot volgende dag.
  9. Spuit vla met versiersak by snytjie in poffertjies.

Afronding

Meng versiersuiker en water tot glad. Skep net bietjie bo-oor elke poffertjie.

Bron: 50 beste gebak uit Vrouekeur

Uitgewers: Lapa

Net soos ʼn pannekoek met die beste resep nog steeds kan flop, kan Maroela nie pa (of ma!) staan vir enige van die resepte wat jy self by die huis probeer nie. Elke koppie meel, bakpoeier, melk, eier of enige ander bestanddeel is dus in jou eie hande en Maroela Media kan nie enige verantwoordelikheid aanvaar vir komplimente (of klagtes) oor jou kookvernuf nie. -Red

Deel van: Gebak, Soetgoed

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae