“Ek is ʼn boervrou van Namibië en woon op ʼn plaas in die Otjiwarongo-distrik. Ek is mal oor bak en brou en lees resepteboeke soos storieboeke. Hierdie beskuitresep het ek so deur die jare “gemodify”, soos ons dogters altyd sê, totdat ek tevrede was. Ek bak dit nou al vir 38 jaar,” skryf Wieletjies de Villiers.
Bestanddele:
- 240 g klapper
- 2 kg bruismeel
- 1 l karringmelk
- 600 g wit suiker
- 10 ml sout
- 500 g botter of margarien (Wieletjies verkies Rama of Stork Bake)
- 3 eiers
- 35 g anys (1 boksie)
Metode:
- Stel jou oond op 180 °C.
- Smeer 2 broodpanne met botter.
- Meng droë bestanddele, behalwe anys, en vryf botter in tot krummelrig. Voeg dan anys by.
- Klits eiers en karringmelk saam. Voeg by droë bestanddele en meng goed.
- Die beslag kan dalk effe droog wees, daarom gooi Wieletjies ʼn bietjie melk by tot die deeg meer hanteerbaar is.
- Druk in gesmeerde panne en bak vir ʼn uur of tot gaar.
- Laat heeltemal afkoel. Sny eers in skywe, dan in vingers.
- Droog die beskuit uit.
* Wieletjies gebruik pangrootte 360 x 140 x 100 cm.