Toe ek hierdie sjokoladeroulade op die TV-program, Die Nataniël Tafel, gemaak het, was almal gaande daaroor. Sowel die sjokolade- as meringuerolkoek kry geen meel in nie. Vul dit met jogurt of room.
Bestanddele:
Sjokoladerol
- 6 groot eiers, geskei
- 150 g xylitol of strooisuiker
- 50 g kakao
- knippie sout
- 125 ml (½ k) fyn amandels
Vulsel
- 375 ml (1½ k) Griekse jogurt
- 50 g donkersjokolade (80 %), gesmelt
- 100 g vars bessies
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180 ̊C. Spuit ’n rolkoekpan met kleefwerende kossproei en voer dit uit met bakpapier. Spuit weer en bestuif liggies met kakao.
Sjokoladerol
- Klits die eiergeel en xylitol of suiker tot lig en romerig.
- Vou die kakao, sout en fyn amandels in.
- Klits die eierwit in ’n skoon mengbak met ’n skoon eierklitser tot styf, roer ’n bietjie by die eiergeelmengsel in en vou die eiergeelmengsel dan by die eierwit in.
- Giet in die rolkoekpan, maak gelyk en bak 20 minute tot sponserig in die middel.
- Keer uit op ’n vadoek, trek die papier af en rol op in die vadoek. Laat afkoel.
Vulsel
- Voeg sowat 60-125 ml van die Griekse jogurt by die sjokolade en meng goed.
- Smeer die sjokoladevulsel oor die rolkoek en smeer van die Griekse jogurt bo-oor. Plaas van die bessies bo-op en rol weer op.
- Rond af met ’n smeersel sjokoladevulsel bo-oor en versier met bessies. Stuif kakao oor.
Variasie
Wit roulade
- Klits 4 eiers en 180 ml (¾ k) strooisuiker of xylitol tot ’n meringue. Smeer in ’n uitgevoerde rolkoekpan.
- Strooi 5 ml (1 t) kaneel, 15 ml (1 e) bruinsuiker en 50 g amandelvlokkies oor.
- Bak 10 minute tot die meringue liggies verbruin. Vul en rol die roulade op soos beskryf.
Bron: Carmen se beste resepte
Uitgewer: Human & Rousseau