Soorte resepte:

Resep: Xilofoonkoek vir ‘n musiekpartytjie

Xilofoonkoek Foto: Partytjies is pret 5

Xilofoonkoek Foto: Partytjies is pret 5

Ons maak musiek!

Bestanddele:
1 x plaatkoek (resep volg onderaan)
180 ml ligpienk botterversiersel (resep volg onderaan)
125 ml koekstrooisels
625 ml wit botterversiersel
pienk muskusstrooitjies
300 ml glansversiersel (resep volg onderaan)
ongeveer 9 vingerkoekies
blou, oranje, rooi, geel, pienk, groen en swart koskleursel
2 wit malvalekkers

2 gestreepte papierstrooitjies

Metode:
1. Trek ‘n vierkantige koekbord met papier en plastiek oor. Sny ‘n lang driehoekvorm van die plaatkoek af, soos op die foto (Sien foto “Stap 1” onderaan). Die stuk wat oorbly gaan jy vir die xilofoon gebruik.
2. Smeer ligpienk botterversiersel oor die koekbord en besprinkel dit met koekstrooisel. Sit die koek in die middel van die koekbord neer. Smeer die koek met wit versiersel toe. Pak ‘n ry pienk muskusstrooitjies op die lang syrande van die koek (Sien foto “Stap 2” onderaan).
3. Verdeel die glansversiersel tussen sewe of agt bakkies en kleur elk ‘n ander kleur. Smeer dit versigtig bo-oor die vingerkoekies – las stukkies van die koekies met botterversiersel vir die langer note – en laat dit hard word. Pak die koekies op die koek. (Sien foto “Stap 3” onderaan)
4. Knip die papierstrooitjies effens korter. Steek gaatjies in die malvalekkers en druk die strooitjies daarin. Sit dit op die koekbord langs die xilofoon neer. (Sien foto “Stap 4” onderaan)

Plaatkoek:
Lewer 1 groot plaatkoek

20 ml margarien
250 ml melk
5 ekstra-groot eiers
375 ml suiker
580 ml koekmeel
15 ml bakpoeier
3 ml sout

Voorverhit die oond tot 190°C. Smeer ‘n oondpan met botter of olie of spuit dit met kossproei. Voer die pan met bakpapier en smeer of spuit dit weer. Verhit die margarien en melk saam tot kookpunt en laat dit afkoel. Klits die eiers tot lig en voeg die suiker lepel vir lepel by. Klits dit tot lig en dik. (Dit duur ongeveer 10 minute – die mensel is reg as dit in ‘n dik lint van die klitser afloop wanneer jy dit oplig.) Sif die meel, bakpoeier en sout saam en vou dit by die eiermengsel in. Vou die afgekoelde melkmengsel bietjie vir bietjie daarby in. Skep die beslag in die koekpan en maak dit gelyk. Bak dit vir 30 minute in die verhitte oond, tot dit uitgerys en goudbruin is en ‘n toetspen skoon uit die middel van die koek kom. Laat dit effens afkoel, keer dit op ‘n draadrak uit en laat dit heeltemal afkoel.

Botterversiersel:
Lewer ongeveer 500 ml versiersel

125 g sagte botter of margarien
500 ml versiersuiker, gesif
10 ml vanieljegeursel
kookwater of louwarm melk

Verroom die botter of margarien en versiersuiker. Klits die vanieljegeursel en ‘n bietjie kookwater of melk daarby in om ‘n smeerbare versiersel te verkry. Hou aan met klits tot die versiersel lig en romerig is. Gebruik dit net so of meng koskleursel daarby in.

Glansversiersel:
500 ml versiersuiker
30 ml suurlemoensap
30 ml water

Sif die versiersuiker in ‘n bak. Meng die suurlemoensap en water, en voeg dit bietjie vir bietjie by die gesifte versiersuiker tot ‘n slap, smeerbare versiersel verkry word. Dit moenie te loperig wees nie. As die versiersel te dik is, voeg nog vloeistof by. Indien te slap, sif ekstra versiersuiker oor. Verhit dit oor lae hitte in ‘n kastrol en roer die heeltyd tot die mengsel dik en blink is. Moenie dit laat kook nie, want dit sal kristalliseer. Voeg kleursel by, indien verkies. Gebruik die versiersel dadelik, want dit word baie vinnig hard. Klits ‘n bietjie kookwater by as dit te dik word.

Dié partytjie-idee en resepte is gepubliseer in die boek, Partytjies is pret 5
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R185-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Stap 1

Stap 1

Stap 2

Stap 2

Stap 3

Stap 3

Stap 4

Stap 4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.