Soorte resepte:

Resep: Ystervarkies

ystervarkies

Ystervarkies is ‘n gewilde happie tydens teetyd. Foto: Pinkpolkadotfood.com

Maak ongeveer 25 ystervarkies.

Bestanddele vir die laagkoek:

  • 3 eetlepels olie
  • 85 ml melk
  • 4 eiers
  • 1 koppie (250 ml) suiker
  • 375 ml meel
  • 7 ml bakpoeier
  • 2 ml sout
  • 1 teelepel vanieljegeursel

Bestanddele vir die stroop:

  • 180 ml kokende water
  • 375 ml suiker
  • ½ teelepel kremetart
  • Knippie sout
  • 30 ml kakao
  • 7 ml botter
  • ½ teelepel vanieljegeursel
  • 200 g klapper

Metode vir die laagkoek:

  1. Kook die melk en olie saam. Laat dit afkoel.
  2. Verhit die oond tot 180 °C en smeer ‘n vierkantige koekpan (22 x 22 x 4 cm).
  3. Klits die eiers en suiker saam tot lig en romerig. Die mengsel moet lig van kleur en dik wees. Voeg die vanieljegeursel by.
  4. Sif die meel, bakpoeier en sout saam oor die eiermengsel.
  5. Vou die melk-en-oliemengsel om die beurt saam met die meelmengsel in die eier-en-suikermengsel in.
  6. Skep beslag in pan en maak seker dat dit gelyk is.
  7. Bak vir 25 minute tot gaar.
  8. Laat die koek verkieslik oornag afkoel op ‘n rakkie voordat dit in 3 cm by 3 cm blokkies gesny word, anders verkrummel die koek te maklik.

Metode vir die stroop:

  1. Meng die suiker, kakao en kokende water in ‘n souspan.
  2. Verhit die mengsel oor ‘n medium hitte tot kookpunt terwyl dit geroer word. Kook vir twee minute.
  3. Voeg die botter by. Verlaag die hitte tot dit net die stroop warm hou.

Metode vir die ystervarkies:

  1. Doop die blokkies in die stroop.
  2. Laat dit vir ‘n paar minute op ‘n afkoelrak staan en rol dit dan in die klapper.

Bron:

www. rainbowcooking.co.nz

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Griki ·

Is dit 500 ml of 375 ml meelblom? Bestanddele en metode verskil.

johanna vermaak ·

As ek na die suiker kyk, sal ek se 500ml koekmeel

Uys ·

ek bak glad nie maar kan wel lees. Dit wat ek hier lees maak glad nie sin nie, maroela bak jy die ystervarkies soos jou metode en laat ons weet wat jy met die 500ml meelblom gemaak het.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Griki en Uys

Jammer vir die verwarring, ons het ‘n nuwe resep uit ‘n ander resepteboek gelaai.

Groete
Esté Meyer Jansen
Namens
Maroela Media

Deon ·

Het nou die koek in met die 375ml meel. Hoop nie dis ‘n flop nie!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.