Soorte resepte:

Geniale gemmer

Argieffoto (Foto: silviarita, Pixabay)

Gemmer is een van daardie rare natuurlike produkte wat nie net propvol gesondheidsvoordele is nie – dis boonop heerlik in verskeie vorme. Knibbel aan ʼn gemmerkoekie, brou ʼn pot gemmertee, kerf vars gemmer in jou slaai of gooi ʼn lepel fyn gemmer in jou aandete-dis – maar maak seker dat jy dit inneem! Die magiese middel in gemmer is “gingerol”, wat kragtige anti-inflammatoriese en anti-oksidant-eienskappe het.

  • Gebruik gemmer om verskeie tipes naarheid, soos bewegingsiekte, naarheid as gevolg van chemoterapie-behandeling en oggendnaarheid tydens swangerskap te bekamp. As jy swanger is en nie vroegoggend ʼn gemmerkoekie in jou lyf kan kry nie, probeer gerus gemmer- en heuningtee.
  • Gemmer kan ingespan word om spierpyne as gevolg van oormatige oefening te verbeter. Hoewel dit nie onmiddellike pynverligting tot gevolg het nie, sal die gebruik daarvan gedurende ʼn tydperk van intense oefening verseker dat jou spiere nie so seer is nie.
  • Heelwat studies dui daarop dat gemmer die simptome van osteoartritis kan verlig.
  • Vir persone met tipe 2-diabetes is die goeie nuus dat gemmer jou bloedsuikervlakke kan verlaag en die risikofaktore van hartsiektes geassosieer met tipe 2-diabetes kan verminder.
  • Gemmer word dikwels gebruik in die behandeling van chroniese slegte spysvertering, aangesien dit die spysverteringsproses versnel.
  • Indien gemmer aan die begin van die menstruasiesiklus geneem word, kan dit beduidende verligting van menstruasiepyn
  • Daar is aanduidings dat gemmer tot ʼn drastiese daling in LDL-cholesterol- en bloed-trigliseriedvlakke kan lei.
  • Sommige studies bewys dat gemmer breinfunksionering kan verbeter, en die brein kan beskerm teen ʼn ouderdomverwante afname in breinfunksies.
  • Gemmer kan gebruik word om infeksies te beveg en word dikwels as ʼn kuur vir verkoues en griep gebruik.

Gemmer- en suurlemoentee: Rasper ʼn stuk gemmerwortel (sowat 3 cm) in ʼn teepotjie en gooi 1 koppie kookwater oor. Laat trek vir 3 minute. Gooi deur ʼn sif in ʼn beker, en voeg 1 eetlepel heuning en 1 eetlepel suurlemoensap by. Roer dit met ʼn kaneelstokkie vir ekstra geur.

Bron (behalwe resep): authoritynutrion.com

* Hierdie artikel het oorspronklik in Medihelp se Élan-tydskrif vir lede verskyn en word met vergunning op Maroela Media geherpubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.