Soorte resepte:

Gewilde koswerklikheidsreeks weer in 2019 op die kassie

kykNET se gewilde koswerklikheidsreeks Kokkedoor keer volgende jaar terug en die inskrywings vir voornemende deelnemers is nou oop.

Die eerste twee Kokkedoor-reekse, wat onderskeidelik in 2013 en 2014 uitgesaai is, is opgevolg deur twee seisoene van Koekedoor, en daarna het Kokkedoortjie en toe ook Koekedoortjie die lig gesien.

Die derde seisoen van Kokkedoor, wat in 2019 uitgesaai sal word, is weer op soek na die perfekte kombinasie van ʼn onthoukok en kinkelkok.

Die eerste twee seisoene van Kokkedoor is in Prins Albert in die Karoo vervaardig. Volgens Paul Venter, vervaardiger van dié suksesvolle kosreekse, sal deelnemers aan die derde reeks hulle egter in Kaapstad moet aanmeld by Atlantic Studios, waar Kokkedoortjie en Koekedoortjie ook verfilm is, en waar gewilde reekse soos Suidooster, Kwêla en Tussen Ons ook vervaardig word.

In die Kokkedoor-kombuis. (Foto: Verskaf)

In die Kokkedoor-kombuis. (Foto: Verskaf)

“Wie sal ooit vir tannie Poppie vergeet? Of Tiaan en Mynhardt se ongelooflike skeppings? Tannie Skuinskoek en Magda se sêgoed? Johnny en Elsa se innoverende spyskaarte? Groot pryse, wat binnekort bekendgemaak sal word, is ook op die spel,” sê Venter luidens ʼn mediaverklaring.

Hetta van Deventer-Teblanche en Nic van Wyk sal weer die beoordelaars wees, maar gaan ook dié keer deur die bekende kosskrywer en -blogger, Sam Woulidge, bygestaan word.

Wat is ’n onthoukok? Hulle is die fakkeldraers vir onthoukos en al het hulle nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, klop hul harte warm vir tradisionele kos. Vir inspirasie span hulle herinneringe en beproefde metodes van ma’s, oumas en tannies uit die huiskombuis in. Onthoukokke word gekies vir hul vernuf as ʼn huiskok en hul kennis en passie vir onthoukos.

Wat is ’n kinkelkok? ʼn Kinkelkok se uitdaging is om hul sjefkwalifikasies, professionele kombuis-ervaring en uitstekende tegniese vaardighede vir vernuwing in te span. Kinkelkokke word gekies vir hul kwalifikasies en/of hulle ondervinding in ʼn erkende restaurant en professionele kombuis (nie ʼn braairestaurant of koffiekroeg nie.) Slegs ʼn huishoudkundegraad aan ʼn universiteit is ook nie ʼn voldoende kwalifikasie vir dié kategorie nie.

Ander belangrike inligting:

  • Navrae kan gerig word aan [email protected]
  • Deelnemers moet ouer as 18 wees.
  • Inskrywings is vanaf 17 September to 16 November 2018 oop.
  • Oudisies sal in die week van 26 November in Kaapstad, Bloemfontein en Johannesburg plaasvind.
  • Die skietdatums waarvoor finaliste beskikbaar moet wees, is 4 Februarie tot 7 Maart 2019.

Meer inligting en inskrywingsvorms is beskikbaar op kykNET se webwerf by www.kyknet.tv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Iemand ·

Boer soek ‘n vrou is fantasties. Dit is ‘n weerspieëling van die lewe. Kyk dit gerus. Hoop is altyd ‘n wenner.

Charles ·

Dis hoogtyd, ‘n kosprogram. Dalk nog ‘n trou program ook…

Celeste ·

Ek hoop dis net kokkedoor. Bietjie dik vir kokkedoortjie.

Daan Erasmus ·

Kook programme sal nie uit die mode gaan nie. Net soos daar altyd ‘n mark vir nuwe kookboeke sal wees. Eet is ‘n basiese behoefte van ‘n mens.

Charles ·

Op ‘n tyd het almal cd’s gemaak en wou sing, nou word almal chefs oja en troue organiseerders…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.