Soorte resepte:

‘Ginger’ help ma’s op Facebook om kinders gesond te hou

Foto: Pixabay

’n Facebook “chatbot” genaamd Ginger probeer ma’s en kinderversorgers aanmoedig om verandering aan kindergesondheid aan te bring.

Ginger, wat onlangs deur die farmaseutiese maatskappy Pharma Dynamics ontwerp is, wil help om ʼn einde te bring aan Suid-Afrika se hoë voorkoms van vetsug en verdwerging (as gevolg van onder- of wanvoeding) onder skoolkinders.

Nicole Jennings, woordvoerder vir Pharma Dynamics, het gesê dié veldtog is spesifiek gemik op ma’s omdat hulle hul kinders se eetgewoontes op ʼn verskeidenheid maniere kan beïnvloed.

“Ma’s neem aktief besluite oor kos vir hul gesinne en hulle dien as rolmodelle vir dieetvoorkeure en -patrone vir hul kinders. Kinders leer ook oor kos deur die opvatting wat hulle ouers oor kos het. Navorsing toon dat wanneer kinders sien hul ouers eet daagliks ’n gesonde hoeveelheid vrugte en groente, sal hulle ook dié patroon self voortsit,” het Jennings gesê.

ʼn Groot hoeveelheid ma’s werk voltyds en kinders se gesonde eetgewoontes word aan nasorg of skole oorgelaat. Jennings meen die skoolomgewing moet ook verantwoordelikheid neem om kinders oor gesonde eetplanne te leer.

“ʼn Persoon se eetgewoontes word gewoonlik gedurende die kinderjare gevorm. Wanneer gesonder maaltydopsies tuis of by die skool aan kinders gebied word, sal kinders meer geneig wees om gesonder voedselkeuses vir die res van hul lewe te maak.”

“Vetsug is een van Suid-Afrika se openbare gesondheidskwessies wat die vinnigste toeneem. Soveel as twee uit elke tien kinders is oorgewig of ly aan vetsug. Verdwerging, as gevolg van onder- of wanvoeding is ook ʼn groot probleem in die land met sowat 20% van twee- tot vyfjariges wat daardeur geaffekteer word,” het Jennings gesê.

Om hierdie probleme die hoof te bied is Ginger geskep om ma’s en kinderversorgers deur middel van Facebook te help om gesonde ontbyt, nagereg, peuselhappies en aandete op ʼn beperkte begroting voor te berei.

Kry die resep vir appelhappies met grondboontjiebotter asook tunakoekies hier. Vir meer inligting oor Ginger besoek die Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.