Soorte resepte:

Resep: Geroosterde broccoli-&-blomkoolslaai met kekerertjies

Geroosterde broccoli-&-blomkoolslaai met kekerertjies (Foto: Verskaf)

Jy ken die uitdrukking dat jy nie iemand op sy of haar baadjie moet takseer nie. Dis net so waar vir blomkool en broccoli, want soms word die neuse daarvoor opgetrek of die arme twee groentes word net op die bord rondgekrap. Gee gerus vir dié twee ’n splinternuwe baadjie en jou gaste gaan vir seker vir meer vra. Die kombinasie van komyn, rooibostee en suurlemoensap geur die broccoli en blomkool heerlik en albei groentes is heerlik as dit gerooster word. Kekerertjies, kruisement en feta is ideaal om dit heerlik af te rond. Geniet dit as bygereg of selfs vegetariese dis.

Aangepas uit Cooking from the heart 3

Lewer 4–6 porsies

Bestanddele

  • 300 g broccoli, in blommetjies gesny
  • 300 g blomkool, in blommetjies gesny
  • 30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie
  • suurlemoensap en swartpeper na smaak
  • 10 ml (2 t) komynsaad of 15 ml (1 e) gemaalde komyn
  • 60 ml (¼ k) rooibostee
  • 1 x 410 g-blik kekerertjies, gedreineer
  • hand vol vars kruisement of roketblare
  • 1 skyf fetakaas, gekrummel
  • hand vol sonneblomsaad

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C. Meng die olie, suurlemoensap, peper, komyn en tee goed saam en roer deeglik deur die broccoli en blomkool.
  2. Skep groente in ’n groot oondbak en rooster 15–20 minute of tot net gaar. Laat groente afkoel.
  3. Roer die kekerertjies en vars kruie by en strooi feta en sonneblomsaad bo-oor. Sit by kamertemperatuur as slaai, bygereg of vegetariese ete voor.

Wenke

  1. Sit as bygereg met geroosterde vis, hoender of enige vleis van jou keuse voor. Die gereg is ook heerlik warm.
  2. Voeg repies gaar hoender met die kekerertjies by om dit ’n meer vullende ete te maak.
  3. Gekapte brandrissie of ander geurmiddels soos paprika of borrie sal lekker wees saam met die ander speserye in die gereg.

Kyk Maandagoggende na #Kosblik op Die Groot Ontbyt, kykNET-kanaal 144, vir nog lekker maklike en gesonde resepte. Volg Heleen op Facebook www.facebook.com/HeleenMeyerFood en besoek gerus haar webwerf, www.heleenmeyer.co.za, vir nog smullekker idees. Haar resepteboek, Maak vyf, is ook op Maroela se e-winkel https://maroelawinkel.co.za/ beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Basson ·

Die slaai resep lyk baie lekker, maar daardie water is seker van die duurste ‘herverpakte’ kraanwater beskikbaar?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.